brandwag kragoptellers
Die Hoërskool Brandwag se uitblinkers. Foto: Verskaf

KARIEGA – Die Hoërskool Brandwag se kragoptelspan het nie brieke nie!

Hulle is vir hulle skitterende prestasies by die Oos-Kaapse Sport en Ontspanning se jaarlikse prysuitdeling by die Wild Coast Sun die tweede agtereenvolgende jaar as die Skoolsportspan van die Jaar aangewys.

Dit is die eerste keer dat ‘n skool dié tweekuns-prestasie behaal. Victoriapark se swemspan het tweede geëindig en Nomandi Junior Sekondêre skool se krieketspan derde.

Ilze-Mari Maritz, ‘n onderwyseres by Brandwag en self ‘n Protea-kragopteller, het die toekenning in ontvangs geneem.

Ilze-Mari Maritz
‘n Trotse Ilze-Mari Maritz met Brandwag se toekenning. Foto: Verskaf

Onder die prestasies wat Brandwag se toekenning verseker het, sluit in ses goue medaljes by die 2024 Statebondspele, sewe goues, een silwer en een brons by die Asië/Afrika-kampioenskap in 2024 en vyf silwer medaljes by dié kampioenskappe verlede jaar.

By die onlangse Oos-Kaap Classic en Equipped-kampioenskap by die Kaap Recife skool in Somerstrand het Brandwag ook as wenner uit die stryd getree. Oudergewoonte was Kobie Mellet en Alan de Beer onder die groot sterre.

Alan het in die Classic o.74kg-afdeling ‘n nuwe OP-rekord opgestel met sy poging van 162,5kg in die hurksit.

Hy het ook ‘n spogtotaal van457,5kg opgestel. En in die Equipped-afdeling het hy ook twee OP-rekords opgestel van 125kg in die borsopdruk en 182,5kg in die dooiegewigoptel.

Kobie het ‘n eerste plek behaal in die o.76kg Equipped-afdeling met ‘n totaal van 265kg nadat sy met 95kg in die hurksit, 45kg in die borsopdruk en 125kg in die dooiegewigoptel geslaag het.

Lieschen Petrus, wat in die o.52kg-afdeling deelgeneem het, het met ‘n totaal van 165kg geëindig ná haar pogings van 60kg in die hurksit, 35kg in die borsopdruk en 70kg in die dooiegewigoptel.

Drew de Lange het ook uitgeblink met ‘n uitstekende totaal van 200kg in die o.57kg Classic-afdeling. Sy was suksesvol met ‘n hurksit van 70kg, 35kg in die borsopdruk en 95kg in die dooiegewigoptel.

Dit het aan haar die eerste plek besorg in die sub-junior afdeling.

In die o.84kg Classic-afdeling het Clarissa Gallant ook ‘n eerste plek behaal in die sun-junior afdeling met 85kg in die hurksit, 60kg in die borsopdruk en 135kg in die dooiegewigoptel vir ‘n totaal van 280kg.

Haar borsopdrukpoging is ook ‘n nuwe OP-rekord.

brandwag kragoptellers
Op die foto is van die skool se uitblinkers: Drew de Lange, Clarissa Gallant, Alan de Beer, Kobie Mellet, Abigaill Doyle en Lieschen Petrus. Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article