VIR Brian Scheepers van die Uitenhage Federasie is duiwesport nie net ’n stokperdjie nie. Dis harde werk wat hy vandag nog met liefde doen.
Brian, wat al van kindsdae af betrokke is by duiwesport, is 60 jaar jonk, hiperaktief en omtrent altyd op sy selfoon. So sê Stefan Strydom, sekretaris van die Uitenhage Federasie.
“Hy vlieg sy duiwe hard. Meeste van sy duiwe vlieg vyf tot ses weke na mekaar, rus dan een naweek en dan is dit weer vyf tot ses weke na mekaar en tot 15 wedvlugte per seisoen,” sê Strydom.
Maar hy doen dit nie alleen nie. Dis met sy eggenote Jacomina aan sy sy, dat hy elke week vir die topposisie mik. Sy is die hokversorger en staan elke Saterdag in wind en weer voor die hokke om die duiwe in te roep.
Volgens Strydom is Brian 100% toegewyd aan duiwesport, maar as dit kom by die praatwerk, dan doen Brian die Praat en Jacomina die Werk.
“As enige duiweboer ’n bietjie lou raak in die sport, is 10 minute in Brian se geselskap net die ding om die vure van entoesiasme weer hoog te laat brand.”
Brian se prestasies het enorm verbeter nadat hy in 2019 ’n besonderse Derauw/Sablon/Marcel Aelbrecht mannetjie bekom het.
Brian het in 2021 vyfde in die UTH Fed punte geëindig, toe derde in 2022 en tweede in 2023.
Die besonderse mannetjie se nageslag presteer nie net vir Brian nie, maar ook vir ander in die groter sentra en stede. Waar duiweboere kinders of kleinkinders van die mannetjie bekom het, lewer hulle wenners in groot kompetisie op, en domineer hulle as hulle vlieg.
Brian is die trotse eienaar van ZAOP UH 1526/21, ’n blouband wyfie wat onlangs die goue medalje in die middelafstand gewen het, sowel as die silwermedalje algeheel in die kategorie vir deelname van organisasies met minder dan 500 duiwe per wedvlug.
Dié blouband wyfie is een van vele kampioenvlieërs geteel uit die Derauw/Sablon/Marcel Aelbrecht mannetjie.
Sy het reeds as jaaroud onder andere tweede, sewende en negende Fed gevlieg.
In 2023 presteer sy soos volg teen gemiddeld 311 duiwe per week: eerste; tweede; derde; vierde; vyfde; agste; negende; tiende; twaalfde; vyftiende en twintigste UTH Fed oor afstande van 372km tot 754km.
Boonop teel sy in die voorafgaande afseisoen ’n Fed wenner in die vlieghok. Haar vol broer, 1001, was die beste duif in die UTH Fed in 2021.
“Brian besit tans die mees fantastiese teelmannetjie waarvan enige duiweboer kan droom,” vertel Strydom. “Dit is verstommend hoe hierdie mannetjie sy wengene oordra op sy nageslag in opeenvolgende generasies en hoe elkeen van die vele toppresteerders uit hierdie mannetjie, duiwe van dieselfde ongelooflike kwaliteit as vlieg- en teelduiwe oplewer.
“Baie geluk met ’n fantastiese familie duiwe wat jy besig is om op te bou, Brian, en baie dankie vir al die hulp en plesier wat jy vir ander in die duiwesport verskaf.”





