DIE afgelope paar maande was ’n besige tyd vir NG Kerk Despatch-Suid soos hulle voorberei het vir hulle “Stap deur die Bybel-uitstalling”.
Groepe van plaaslike skole, ander gemeentes en individuele besoekers het 30 stasies wat Bybelverhale uitbeeld, gesien.
Ds. Arrie Preller sê dit was ’n sukses en ’n plesier om die skoolgroepe van die Laerskool Frans Conradie, Laerskool Sonop en Laerskool Susannah Fourie te sien so tussendeur die ander besoekers.
“Sommer net om na die kinders se gesigte te kyk soos hulle deurgaan, kan ’n mens sien iets gebeur, ’n liggie het aangegaan. Waar die Bybel vir kinders baie keer vreemd geword het, word dit skielik op ’n manier lewend of op ’n interessante manier sigbaar voor hulle oê,” sê ds. Preller.
“Daar is baie mooi terugvoer. Ons het baie gehoor van die baie moeite wat ingegaan het in die uitstalling en mense wat sê ‘ons sien die Bybel op ’n nuwe manier’. Dit is wat ons wou bereik. Nie om mense te beïndruk met ’n oulike uitstalling nie, maar dat die Bybel lewend word vir die mense.”
Hy het vertel dat daar nie juis ’n gunsteling stasie onder die besoekers was nie. Verskillende mense het op verskillende plekke stilgestaan, was dit by die Skepping, Noag se ark, die brandende bos, die Tempel van Salamo, die berg Sinai of ’n ander stasie. Daar was net te veel om van te kies.
Hou dop om nie NG Kerk Despatch-Suid se volgende geleentheid te mis nie.



