Op die foto is die 2023-rugbykaptein en Cravenweek-ster van die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar, Dewet Fourie (regs), saam met sy skoolafrigter, Dawie Human, oftewel Oom Dawie, soos sy manne hom noem.

Foto: Verskaf

Die jaar 2023 was inderdaad ’n besondere jaar vir Dewet Fourie van die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar.

Nie net was Dewet die hoofseun van Daniel Pienaar nie, hy was ook die kaptein van die Tiere se eerste rugbyspan wat ’n baie suksesvolle seisoen beleef het. Onder meer het die Tiere vanjaar op die rugbyveld ’n gelykop telling teen die eerste rugbyspan van die Hoërskool Framesby aangeteken en ’n oorwinning oor die Hoërskool Brandwag se eerste rugbyspan in die jaarlikse FNB Classic Clash tussen Daniel Pienaar en Brandwag.

Dawie Human, die eerstespanafrigter van Daniel Pienaar, beskryf Dewet as ’n hardwerkende en doelgerigte speler wat met sy voorbeeld lei.

Onlangs het een van Suid-Afrika se grootste rugby-franchises, die Leeus, ’n kontrak met Dewet gesluit om sy dienste te bekom. Vir Tiereleier Dewet is dié kontrak ’n hoogtepunt aangesien dit hom in staat stel om sy rugbyloopbaan na skool voort te sit. Terselfdertyd maak dit ook voorsiening vir sy universiteitstudies.

Daniel Pienaar se skoolhoof, Kola du Toit, is met reg baie trots op Dewet en is saam met hom opgewonde oor wat in die toekoms vir dié knap jongeling voorlê. Sy beskryf hom as ’n volwasse en nederige jongman; ’n persoon wat geen geleentheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Die Tiere sal sy loopbaan met groot belangstelling dophou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article