Ouma Bettie du Piesanie (voor regs) saam met haar dogters (voor links) Wilhelmina Jacobs (80) en agter van links is Nellie Kleyn (75), Cathy Burger (65) en Marinda Coetzer (70). Foto’s: HEILIE COMBRINCK

“OM stil te bly op die regte tyd, sê baie meer as om ontydig jou sê te wil sê.”

Dié wyse raad is een van vele van ouma Bettie du Piesanie (néé Barnard) van Despatch, wie se 100ste verjaardag op Woensdag, 24 Maart gevier gaan word.

Ouma Bettie is in 1921 op Jansenville gebore, waar sy saam met haar vyf susters en drie broers grootgeword en skoolgegaan het. Sy is die enigste oorlewende van haar familie.

Ouma Bettie en haar eerste man, Thys Strydom, het op die plaas De Kroon in die Klipplaat-distrik gewoon. In 1943 het hulle na Despatch getrek en vier dogters is uit hul huwelik gebore, Wilhelmina Jacobs (80), Nellie Kleyn (75), Marinda Coetzer (70) en Cathy Burger (65). Die dogters bly nog al die jare op Despatch, behalwe Cathy wat in die Baai woon.

In 1981 is Thys Strydom op 71-jarige ouderdom oorlede na ‘n beroerte. Ouma Bettie was toe in haar vroeë sestigs en het vir haar suster op Jansenville gaan kuier en daar het sy Boet Knoetze ontmoet. Hulle is later getroud, maar drie jaar later sterf hy aan ’n hartaanval.

’n Paar jaar later is sy vir ’n derde keer, weer op Jansenville, getroud met Kerneels du Piesanie. Kort na hul troue sterf hy in 1988 aan ’n hartaanval. Na sy dood het Ouma Bettie teruggetrek na Despatch, waar sy die afgelope 33 jaar tussen haar dogters woon.

Volgens hulle het hul ma ’n geseënde lewe geniet sowel as goeie gesondheid tot sy op 99-jarige ouderdom met psigotiese demensie gediagnoseer is.

Gevolglik kan sy nie meer loop nie en pla die geheue so bietjie.

Op 90 het haar huisdokter, dr. Henk de Jongh gesê, “Tannie jy is só gesond, jou bloeddruk is soos dié van ’n 60-jarige vrou.”

Ouma Bettie is die juweel van haar familie, het ’n goeie sin vir humor en is lief vir grappies maak. Sy kan altyd deur ’n ring getrek word en hou van mooi aantrek en netjies wees.

“Ek het nog nie lippe en wange aan nie,” is ’n oorbekende sêding van haar wanneer daar ’n uitstappie iewers heen sou wees. En dan het almal geduldig gewag tot dit gedoen was.

Vir hekel was sy baie lief en elke kind het ’n lappie van Ouma Bettie in hul huis.

Die Strydom-familie is een groot gelukkige, geseënde en gesellige familie wat elke jaar ’n familie-reünie hou met Bettie “Strydom” as die eregas.

Haar nasate bestaan uit vier dogters, 12 kleinkinders, 18 agterkleinkinders en twee agter-agterkleinkinders. Hulle almal is dit eens, “ons as nalatingskap is só geseënd en dankbaar om Ouma Bettie in ons lewens te hê en dank ons liewe Vader elke dag vir haar.

“Sy is ’n goeie voorbeeld vir ons Strydoms van oud tot jonk en beslis die grootste bederf wat ons ooit kon kry. Sy is ’n ware kind van die Here.”

Ouma Bettie sê met ’n glimlag, “Ek is jaloers op my familie wat oorlede is, want dit lyk my Liewe Jesus het van my vergeet hier op aarde.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article