OP Uitenhage is daar groot kommer oor die toenemende getal inwoners wat aan kodeïen-pynstillers verslaaf raak.
“Al hoe meer mense ‘pop’ die groen pynstillers. Verslawing raak nooit net die verslaafde nie. Dié kodeïen-verslawing skeur gesinne en gemeenskappe,” sê Johanna George, ’n maatskaplike werker. Sy bedryf haar eie beradingspraktyk op Uitenhage.
“Mense verloor hulle werk omdat kodeïenverslawing kognitiewe skade veroorsaak.”
Die groen pynstiller* is ’n skedule vyf voorskrifmedikasie, maar dit is onwettig en vryelik beskikbaar by “pilhuise” en sommige spaza- winkels in die Uitenhage-gemeenskap.
Die groen pynstiller verslawingsgolf spoel oor alle ouderdomme, maar volgens George is daar ’n skerp toename onder mense in hul mid-20s en 30s.
“Van die mense koop tot 100 pille op ’n slag teen R2 of R2.50 per pil. Hulle kou dit vir ’n vinniger effek. “Die een oomblik makeer hulle niks en as jy weer sien loop hulle hoog, in ’n wêreld van hul eie.”
Pyn van pynstillermisbruik
“Die ding met kodeïen is dit bind op die opioïed-pynreseptor in jou brein wat gevolglik dopamien vrystel wat ’n mens ontspanne en selfs eufories laat voel.”
George skryf die pynstillermisbruik daaraan toe dat mense omstandighede wat spanning of konflik veroorsaak, wil ontsnap.
“Hulle weet nie hoe om dié situasies te hanteer nie. Dit veroorsaak spanning, kopseer en slaaploosheid. So hulle dink, ‘pop ’n pil dan voel ek beter’, maar die situasie wat die spanning veroorsaak gaan nie weg nie.
“Net daar begin die bose kringloop om al meer pille te drink, wat nóg meer probleme veroorsaak.”
Die ironie van kodeïenverslawing is dat dit gebruikers hipergevoelig maak vir pyn en dat pynstillerverslaafdes eintlik méér pyn ervaar. Pyn is ook een van die onttrekkingsimptome wat ervaar word wanneer kodeïen ophou gebruik word.
Pynstillerverslawing kan tot ’n vroeë dood lei
“Hoe langer jy die pynstillers gebruik, hoe minder help dit en daarom neem die mense al hoe meer pille op ’n slag. Jou organe kan dit nie hanteer nie, jou niere pak op en jou liggaam hou op om normaal te funksioneer,” sê George.
Volgens haar is daar hoop, maar ’n verslaafde moet self tot die besef kom dat hy/sy ’n probleem het en self wil rehabiliteer.
“Jy kan ’n persoon na die beste rehabilitasiesentrum stuur, maar as daardie persoon nie self besef hy/sy het ’n probleem nie, gaan herstel swaar of nooit gebeur nie.
“Wat rehabilitasie ook bemoeilik is dat ’n gerehabiliteerde terugkeer na dieselfde omgewing, wat nie verander het nie en waar die pille steeds vryelik beskikbaar is.”
Gemeenskappe moet saamstaan
Volgens George moet die hele gemeenskap opstaan vir dit wat reg is en die probleem van pynstiller-verslawing saam aanspreek.
Dit sluit in gesinne, ’n gemeenskap, kerke, die departement van gesondheid en die polisie.
“Mense sien die huise verkoop die pille, maar sê niks. Inteendeel dink mense eerder dit is nie my issue nie, maar hulle skinder oor die een wat so sky high in die straat drentel,” sê George.
SA hoog op kodeïen gebruik
Natasja Slabbert, apteker by Klinicare Uitenhage Apteek, beaam dat die verslawing aan kodeïen-pynstillers ’n groot probleem op Uitenhage is.
“By ons apteek is ons streng en reguleer voorskrifmedikasie,” sê Slabbert.
“Dié spesifieke kodeïen-pynstiller is ’n goeie pynpil as dit vir die regte redes gebruik word.
“Ongelukkig is daar mense wat dit misbruik en dit breek my hart, want pynstillerverslawing kan soveel negatiewe dinge veroorsaak binne ’n gemeenskap.”
Volgens Slabbert sluit van die bekendste newe-effekte van pyn-stillers in hardlywigheid, slaperigheid en die verlaging van konsentrasie.
“Dit is ’n goedkoop pynstiller en van die mense is desperaat om dit in die hande te kry. Ons het al die vreemdste redes moes aanhoor oor hoekom mense dié pille moet kry. Dit is regtig hartseer,” sê Slabbert.
Volgens die SA Farmaseutiese-vereniging het die Wêreldgesondheidsorganisasie aangedui dat Suid-Afrika 49ste uit 200 lande is vir die hoogste kodeïen gebruik.
* Die groen pynstiller se naam is weerhou omdat die UD Express teen druktyd nie kommentaar van die betrokke farmaseutiese maatskappy kon kry nie.

