Japhtastraat se oudste inwoner Aunt Joy Sauls (92) aan die woord. By haar is Charmaine Phillips (regs) tydens die unieke straatmakietie. Foto:ALICIA E PHOTOGRAPHY


VIR die oud en huidige inwoners van Japhta- en Le Clusstraat op Uitenhage, sal 5 Oktober 2019 permanent op hul hartstafels rus.

Dit was die dag toe oud en jonk, siek en ge-sond tot laatnag op die straathoek die fees- en braaivleisvure laat brand het – tot letterlik net as oorgebly het.

“Ek gaan slaap gewoonlik teen ses-uur, maar vanaand gaan ek fees vier,” het Aunt Joy Sauls (92), die oudste inwoner van Japhtastraat gesê.

Sy is vereer met ‘n tuisgemaakte koek uit die kombuis van Eileen Butler wie ook ‘n jarelange inwoner van Japhtastraat is. Aunt Joy het daardie aand eers laat huiswaarts gekeer want sy wou ook eers die ou fotos sien wat op ’n skerm vertoon is.

“Ek is oud maar hierdie koek gaan ek eet. Ek gaan dit deel met my twee dogters, Sharon en Marlene,” het Aunt Joy gesê.

Hierdie twee strate is uniek want dis nie aldag dat meer as die helfte van die huidige straat-inwoners, die nasate is van die oorspronklike inwoners nie. Die makietie en straatreünie was die droom van Lorraine Leander (néé Rayners), ’n oud-inwoner van Le Clusstraat.

Die makietie is begin met ’n dankseggingsdiens waargeneem deur Oom Hen Peters, wie se broer Bass Peters nog steeds in die wandelgange van hul ouerhuis loop.

Die name van afgestorwe inwoners van die twee strate is afgelees en ‘n brandende kers was heelaand sigbaar om hul geestelike teenwoordigheid te simboliseer. Kinders het die aand, sonder onderlinge vrese, tot laat in die strate gespeel.

Die inwoners het gedans op die maat van nostalgiese musiek en selfs diegene wie nooit ’n voet op ’n dansbaan sit nie, het dit daardie aand uitgekap. Die mooi melodieë van DJ Sippy, wie ook in Japhtastraat grootgeword het, het menige ’n stille traan laat stort.

Aunt Bella Essop se kleinkinders het ’n karate-vertoning en selfverdedigingsdemonstrasie gedoen.

Hammy en Jean Petersen, Wallace en Denise Bacon, Gerald Abrahams en Dudley Maarman se geselskap om die kole het gelyk soos ’n “Planke” vergadering, wat ou herinneringe ontketen het.

Die inwoners van Japhta- en LeClus-straat se makietie is ’n bewys mense se behoefte aan ’n gees van samehorigheid en vreedsaamheid ten spyte van soveel geweld in die samelewing.

Inwoners is dit eens dat hulle reeds uitsien na 2020 se straat-makietie op dieselfde hoek met feesvure wat nog hoër gaan brand.

Inwoners Wilbur Fisher en Ricardo Bacon gaan dié tradisie voortsit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article