DIENSLEWERING om waterlekke te herstel te midde van ’n dreigende waterramp in Nelson Mandelabaai-metropool, is oënskynlik nie ’n prioriteit vir sommige munisipale werkers nie.

Vir die afgelope drie maande lek ’n munisipale stopkraan by dié eiendom in Lieschingstraat, Uitenhage.

“Sedert verlede Vrydag is munisipale werkers, wat van salarisskale graad 3 na graad 5 opgegradeer wil word, op ’n sloerstaking ” sê raadslid Pieter Terblanche van wyk 51.

“Dit is uiters frustrerend. Ons hande is afgekap. Die redes hoekom waterlekke die afgelope tyd nie herstel word nie, wissel van ‘te min arbeid’ tot ‘te min fondse’ en nou dié sloerstaking.”

’n Waterlek op die hoek van Graaff Reinetweg en Thornstraat by die verkeerslig loop al die afgelope ses weke. In Leischingstraat borrel water al ses maande lank uit ’n gebarste pyp, in Van Plettenbergstraat is dit al drie maande sedert ’n waterlek aangemeld is en in Kanon-straat is ’n waterlek wat weke gelede aangemeld is.

Langs die R75, waar die hoofwatertoevoerpyp na Uitenhage is, stroom water reeds ’n geruime tyd uit. Dít is maar enkele van die groot waterlekke op Uitenhage.

“Wat my bekommer, is dat die werksjaar uitloop. Dit is boonop nog maandeinde ook wat beteken produktiwiteit neem af.

“Kom 13 Desember maak die kontrakteurs toe en dit terwyl der duisende liters water daagliks uit gebarste pype borrel.”

Damvlakke daal daagliks skerp, die reën bly weg en die Nooitgedacht-waterskema wat water uit die Gariep aan Nelson Mandelabaai voor- sien, is na jare steeds nie ten volle in werking nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article