Elkeen wat ’n donasie vir Koppie vir KANSA maak sal onder meer so ’n unieke beker kry. Foto: KANSA

’n EERSTE van sy soort Koppie vir KANSA deurry-kuier in Nelson Mandelabaai word eersdaags op Uitenhage aangebied ter ondersteuning van die Kankervereniging van Suid-Afrika.

Oktober word elke jaar geken deur die gewilde Koppie vir KANSA (Cuppa for CANSA) veldtog wat kankeroorwinnaars en versorgers ’n platform bied om hul stories te deel en om hoop te gee aan ander wat deur kanker geraak word. Dié veldtog moedig die publiek aan om ’n koppie tee of koffie, met heerlike eetgoed, te geniet en sodoende ’n skenking aan KANSA te maak.

Die Koppie vir KANSA word op 24 Oktober by die Evangelies Gereformeerde Kerk in Baxstraat, Van Riebeeckhoogte op Uitenhage gehou tussen 11:00 en 14:00.

Volgens Joey Fourie, een van die gasvroue van die veldtog, word ’n donasie van R250 gevra om die Koppie vir KANSA te ondersteun. Dit sluit in ’n mooi koffiebeker gevul met koffie of tee, ’n boksie gevul met heerlike eetgoed (sout en soet), ’n tydskrif en die kans om ’n gelukkige prys te wen.

Die publiek kan van ’n deurry-geleentheid gebruik maak of by tafeltjies aansit, wat aan die COVID-19 veilige afstandreël voldoen.

Daar is slegs 80 donasiekaartjies ter ondersteuning van die Koppie vir KANSA beskikbaar.

Waarvoor gaan die fondse?

Volgens Marius de Vries van KANSA in Port Elizabeth, is die doel van die veldtog om gemeenskappe te motiveer om betrokke te raak en te help om geld in te samel vir KANSA. Dié geld word vir die ondersteuning van kankerpasiënte sowel as bewusmaking aangewend.

“Dit sluit onder meer in berading en ondersteuningsgroepe, pruike, bekostigbare prosteses, verhuring van mediese toerusting soos rolstoele en eierdopmatrasse, papsmere, bloeddruktoetse, hulp met die versorging van wonde sowel as welwees-programme by korporatiewe ondernemings,” sê De Vries.

  • Vir meer inligting oor KANSA se dienste of om ook ’n Koppie vir KANSA aan te bied bel Marius de Vries by 041 373 5157. Vir jou doansie- kaartjie om die heel eerste Koppie vir KANSA in die metropool, op Uitenhage, te ondersteun bel Joey 082 824 7986, Nadia 071 683 2216 of Marlise 082 303 6471.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article