WAT doen jy met jou ou rekenaartoerus-ting, elektroniese items wat nie meer werk nie of selfs ’n ou stukkende selfoon?
Hierdie soort items word as elektroniese afval of e-afval beskou en moet nie saam met gewone huishoudelike afval in swartsakke weggegooi word nie. Hoofsaaklik omdat e- afval gevaarlike materiaal bevat.
E-afval word beskou as die soort afval wat die vinnigste in die wêreld toeneem en dit moet herwin word omdat dit ’n waardevolle bron van sekondêre grondstowwe is. E-afval hou ook ’n bedreiging vir die omgewing in indien daar nie op die regte wyse met dit weggedoen word nie.
’n E-afvaldag word daarom op 21 November op Uitenhage by Laerskool Albertyn gehou, sodat inwoners op die regte wyse ontslae kan raak van alle ongebruikte of stukkende items wat met krag of batterye werk.
Brandt Kritzinger van NMBM War on Waste sê herwinning is absoluut noodsaaklik omdat dit gevaarlike chemiese materiaalbindings uit die grond hou.
“Hierdie materiaalbindings besoedel ons grond sowel as ons water. Maar elektroniese herwinning daarteenoor is ’n goeie verskaffer van herwinde materiaal vir die vervaardiging van nuwe gebruiksgoedere,” sê Kritzinger.
Items wat ingegee kan word by die
e-afvaldag sluit in:
. selfone & selfoonbatterylaaiers
. DVD/CD spelers & dekodeerders,
. rekenaarskerms
. strykysters, ketels, broodroosters
. drukkers
Die bruikbare materiaal wat uit hierdie items herwin word sluit in: koper, aluminium, staal en elektronies borde en kabels.
Die e-afvaldag op 21 November word van 08:00 tot 12:00 by Laerskool Albertyn gehou. Die aflaaipunt is op die hoek van Frere-singel en Van Plettenbergstraat (kyk uit vir die NMBM War on Waste baniere).
“Weens die COVID-19 inperkings kan Laerskool Albertyn nie op die oomblik voortgaan met hul normale herwinning nie, maar die publiek is nog welkom om plastiekdoppies af te gee by die skoolkantoor tydens normale skool ure,” sê Kritzinger.
- Vir meer inligting oor e-afval bel Brandt Kritzinger by 072 248 8684 of Melinda Labuscagne by 082 296 6211.


