Petro Taylor met haar vetplantkuns wat by die Marktafel te koop aangebied sal word.Foto:MELINDA LABUSCAGNE

DIE beste manier om probleme te takel is om self die moue op te rol en ook ’n helpende hand na jou medemens uit te reik.

Met ’n lewensuitkyk soos dié inspireer Melinda Labuscagne ’n mens om nie te kla oor probleme of om te kerm oor werkloosheid nie, maar om eerder te kyk wat jy self kan doen om verligting te bring.

Melinda is die koördineerder van Solidariteit Helpende Hand se Marktafel, wat by Ons Winkel op Uitenhage in Bubbslaan vir die volgende twee naweke aangebied word.

Die doel van die Marktafel is om mense met handvaardighede die geleentheid te gee om hul produkte te verkoop. Dit is spesi-fiek vir mense wat by Helpende Hand vir hulp aangeklop het omdat hulle ongunstig geraak is deur COVID-19 of werkloos is.

“Dit gaan oor selfwaarde. Daar is beslis ’n verband tussen selfwaarde en die satisfaksie om iets te skep, die trots om dit te verkoop en om sodoende ’n inkomste te verdien,” sê Melinda.

Dit pas in by Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapherstelplan, wat onlangs bekendgestel is, met die doelstelling om die mens deur sy gemeenskap tot ’n ontwikkelde, selfstandige, selfverantwoordelike en optimaal funksionerende persoon te dryf.

“Dit kan slegs gedoen word as die gemeenskap van Uitenhage sáám met ons hande vat,” sê Melinda.

Van die items wat by die Marktafel te koop aangebied gaan word sluit in koeksisters, vetplant kunswerke, hondespeelgoed gemaak van T-hemde, hekelitems en verskeie ander items. Almal wat ’n draai by die Marktafel maak en iets koop, sal in aanmerking kom vir Ons Winkel koopbewyse.

Databasis van plaaslike werksoekers

Volgens Melinda het Helpende Hand ’n databasis geskep van plaaslike mense wat om hulp kom aanklop het in die grendeltyd. Helpende Hand word bygestaan deur ’n persoon met jare se ondervindig in menslike hulpbronne.

“Deur die assessering stel ons vas wat hulle vaardighede en talente is. Hulle CV’s word ook deurgegaan, opgeknap en aanbevelings word gemaak waar tekortkominge geïdentifiseer word.

“Dit is vir ons belangrik dat diegene wat by ons kom aanklop se CV’s die regte inligting soos opleiding, nodige dokumente, kwalifikasies en ondervinding moet bevat. Daarom help ons hulle om waar nodig, feite reg te stel en om indien nodige verdere oplei-ding te voltooi wat hul kanse vir in- diensneming sal vergroot.”

Die Marktafel word op 30 & 31 Oktober en 6 & 7 November op Vrydae van 10:00 tot 14:00 en Saterdae van 09:00 tot 13:00 gehou. Die publiek word uitgenooi om die handwerkverkope te ondersteun.

“Dit sal my hart baie bly maak om te sien dat iemand die bystand wat ons bied as ’n bruggie gebruik om aan die anderkant, met sukses uit te kom,” sê Melinda.

Enigeen wat kan help met finan- siële beplanning, geestelike en maat-skaplike kwessies sowel as ander sosio-ekonomiese bystand en hulp om vaardighede te kom aanbied word uitgenooi om met Melinda kontak te maak.

  • Vir meer inligting oor die projek bel Melinda Labuscagne by 073 498 4872 of Miempie van Wyk by 081 798 0190.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article