PRESIDENT Cyril Ramaphosa en sy regering besluit binne die komende week of die Tuin- roete en die Sarah Baartman-distrik ook as koronavirusbrandpunte verklaar moet word.
“Soos Zweli Mkhize (minister van gesondheid) Sondag gesê het, is ons midde-in ’n oplewing in dele van die Oos- en Wes-Kaap. Weens hierdie verwikkelinge is die Nelson Mandelabaai-metro tot ’n brandpunt verklaar waar ons bykomende beperkinge op beweging, saamtrekke en alkoholverbruik moes instel,” sê Rama-phosa.
Volgens hom monitor sy regering die Tuinroete- en Sarah Baartman-distrik en sal ’n besluit in die komende week geneem word.
Hy sê deskundiges meen dat die beperkinge op vlak 1 sowel as die nakoming van die basiese gesondheidsmaatreëls behoort genoeg te wees om ’n tweede vlaag van infeksies in Suid-Afrika af te weer.
“Ons vind egter mense hou nie by die basiese regulasies van die dra van maskers en die handhawing van gesonde afstande nie. Dit is wat die oplewing verduidelik.
“Ons staar nou een van die grootste be- dreigings van hierdie pandemie in die gesig, en dit is dat die aktiwiteite van mense oor die feestyd tot ’n tweede vlaag gaan lei.
“Daar is ook die gevaar dat Suid-Afrika soos baie ander lande ’n tweede vlaag sal beleef wat groter sal wees as die eerste piek en dat dit tot meer sterftes sal lei.
“As ons ’n tweede vlaag het, sal dit nie net menselewens kos en moontlik ons gesondheidstelsel verswelg nie, maar sal dit ook ons ekonomiese en maatskaplike herstelpogings ondermyn.
Ramaphosa sê dat daar nou vir die eerste keer sedert die uitbreking van die pandemie ook ’n vooruitsig is dat dit tot ’n einde kan kom weens die belowende resultate van ’n aantal entstowwe.
“Daar word verwag dat ons toegang tot ’n gepaste entstof teen die tweede kwartaal van 2021 kan hê en sal aanvanklik genoeg vir minstens 10% van die bevolking ontvang. Dit sal egter ’n baie duur proses wees.
“Ons moet egter daarvoor voorberei en gereed wees om die moeilike besluite te maak oor waar ons die geld sal kry en wanneer ons dit sal aanwend,” sê Ramaphosa.



