HET jy al in vyf minute ’n paar keer om die aardbol gery?
Dit kan gedoen word. In Volkswagen se nuutste en kragtigste Amarok 3.0 V6 TDI 4MOTION. Jy moet net weet wáár om dié reuse-aardbol te kry.
Maar nou eers terug na die begin van hierdie storie. Volkswagen SA se uitnodiging was: Ry van punt A (die Baai) tot by punt B (Camp Figtree in die Zuurberge) om die gespierde 190kW Amarok V6 met sy agt-spoed outomatiese ratkas uit te toets en verken die paaie tussen dié eindbestemmings.
Voet in die hoek het die Amarok leefstyldubbelkajuit lag-lag ’n Vrydagmiddag se spitsverkeer agtergelaat. Dié kragvraat laat waai van 0 – 100km/h in slegs 7.6 sekondes en daar is min bakkies wat dit kan regkry.
Verby Nanaga-padstal, op pad na Alexandria, neem ons die R342 Paterson-afdraai om die Karel Landman-monument te besoek. Die grondpad kronkel teen die bult uit na Kolrand en die Amarok se vasvoetigheid is goed op die los gruis.
Die reuse aardbol
Bo-op die bult staan die hele aarde daar op sy eie voetstuk! Met ’n deursnit van ongeveer vyf meter, is dit in 1939 opgerig ter ere van die Voortrekkerleier Karel Landman wat in 1837 uit Olifantshoek in die gebied na die destydse Natal getrek het.
By dié indrukwekkende aarbol kan ’n mens nie die versoeking weerstaan om om dit te ry nie!
Die enigste toeskouer was ’n bees. Min gespin, herkouend aan die anderkant van die draad.
Klaar om die wêreld volg ons die R342 wat deur wildreservate kronkel tot by die Grahamstad-pad (N2), draai links en ’n entjie aan weer op die R342 verby die Shamwari-natuurreservaat tot by Paterson. Hier steek jy die N10 oor om die plek van Suid-Afrika se Groot Sewe te besoek, naamlik die Addo Olifant Nasionale Park.
Die Amarok het soos die Groot Agtste by die troppe olifante gepronk, want 2021 is die jaar waarin dié park se 90ste jaar en VWSA se 70ste jaar gevier word.
Die park beleef tans die ergste droogte in menseheugenis, maar darem is daar nog genoeg water vir die olifante en ander wild. As ’n mens se oë na groen smag, wil ek nie weet hoe die diere voel nie.
Zuurberg-prag en Amarok-krag
Op pad na dié groen, groet ons die park en draai die Amarok se neus in die rigting van die Zuurberge. Nagenoeg 200 jaar gelede het dit die krag van twee perde gevat om ’n wa deur die Zuurbergpas te trek. Nou ry ek met die krag van sowat 255 perde onder dié Amarok se enjinkap deur dieselfde Ama-asemrowende mooi pas.
Dié nuwe Amarok is 25kW sterker as sy voorganger. En met die enjinfunksie, wat vir 10 sekondes ekstra krag van 200kW gee, is dit die sterkste bakkie op die Suid- Afrikaanse mark.
Die diep sagte gedreun van die Amarok se V6 190kW dieselenjin weerklink teen klipkranse aan die een kant en inheemse boomtoppe aan die ander kant.
Dit is mooi, die natuurskoon én kragtige klank van presisie-meganika.

Van spoke tot e-speke
Die pas wat teen die bergrante kronkel tot in die Karoo, is gewild onder viertrek- en tweewiel-avontuursoekers.
Dit is hoeka in die pas, anderkant die Zuurberg Hotel, waar ’n mens op ’n koue wintersnag kan gaan soek na Woodifield se spook. Dié padbouer het glo op ’n koue wintersnag met sy perd by die krans afgeval en dit is waar dié spookstorie sy ontstaan gekry het.
Maar vir spoke is ek nie lus nie, dit is warm en die koel ligblou swembad by Camp Figtree roep. By die Zuurbergpas-nek, of Zuurberg Cutting soos dit ook bekendstaan, is dit skerp draai regs, nog hoër op teen die berg se rug om te gaan inboek en te ontspan onder die eeue oue wilde vyebome by Camp Figtree.
Hier kan ’n mens die e-krag van fietse inspan en tussen heide op die bergplato rond-rits of die imheemse bos se paadjies gaan verken.
Voëlkykparadys
Dié oorspronklike koloniale sinkhuise is in die 1920s gebou deur ‘n ene Niven. Dit is waar hy sy passie vir voëlkyk beoefen het. Dié huise is elegant vernuwe en ’n paar luukse safari-tente is op die bergrand opgerig.
Dit is steeds ’n paradys met verskillende voëls wat gesien en gehoor kon word terwyl ’n mens op die dek van die luukse tente sit en oor die groen inheemse klowe uitstaar, waar die luiperd nog vryelik in die nag sy roetes loop.
Camp Figtree is ’n lus vir al ’n mens se sintuie. Veral smaak, want bekroonde hoofsjef Marshall Petla en sy span se fynproewerge-regte is ongelooflik lekker.
Nà so ’n bederfkuier met sonsaktonele oor ’n Afrika-horison wat herinner aan klassieke flieks, ry ’n mens met ’n breë glimlag terug huistoe.
En vir oulaas is dit voet in die Amarok se versnellerhoek, want dié bielie van ’n bakkie was die inspirasie vir die soek en besoek van interessante plekke.
- Die VW Amarok 3.0 V6 TDI 4MOTION se top spoed word aangegee as 207km/h. Gemiddelde brandstofverbruik uit die 80 liter tenk is 9.5 liter/100km.


