Die bloed gaan volgende Woensdag vloei wanneer drie NG kerke op Uitenhage hul onderskeie 70ste bestaansjaar vier met ’n gesamentlike dankbaarheidsfees.
Die kerke se idee is om soveel as moontlik feesgangers te kry om die mou op te rol en bloed te skenk, want die mikpunt is om 70 eenhede bloed vir skenking aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANB) te kry.
Die bloedskenk met ’n verskil word op Woensdag, 26 Mei van 10:00 tot 18:00 by NGK Uitenhage-Oos se kerksaal in Somersetstraat gehou.
Die Vrouediens van die NGK Uitenhage-Oos reël die geleentheid in samewerking met die Pay-It-Forward-Christusfees se reëlingskomitee.
“Ons nooi almal, vir wie dit moontlik is om volgende week bloed te skenk, om ons te help om die 70 eenhede mikpunt te bereik,” sê Dorien Nel, een van die fees- organiseerders.
Die drie kerke wat deel is van die bloedskenk-dankbaarheidsfees, is die NG kerke Uitenhage-Oos, Uitenhage-Noord en De Mist wat almal in 1950 gestig is en al verlede jaar hul 70ste bestaansjaar sou vier. Maar die COVID-19 grendeltyd het dit gepootjie, vandaar die gesamentlike dankbaarheidsfees.
“Die idee van die bloedskenk is om iets van onsself aan die gemeenskap terug te gee. Ook om op hierdie manier hoop te gee, waar dit soms onmoontlik lyk,” verduidelik Dorien.
“Die verhaal van Pierre Bosch, wat verlede jaar ook 70 geword het en weens gesondheidsredes 70 eenhede bloed moes ontvang, het ons gemotiveer om die projek aan te pak,” sê Dorien.
Een van die gemeentlede, Pierre Stroebel, het reeds 115 eenhede bloed in sy lewe geskenk.
As ’n mens die Bloeddiens se stelling, dat ’n eenheid bloed tot drie lewens red, in ag neem, kom dit daarop neer dat Pierre nage-noeg 345 lewens help red het.
“Ek doen dit uit my hart uit,” sê Pierre. “Elke keer wanneer ek gaan bloedskenk, wéét ek dat my bloed iewers iemand se lewe gaan red.”
Maar moet nie verwag om Pierre volgende Woensdag te sien bloed skenk nie, want hy kan eers in Junie weer bloed skenk.
Tog sal hy by die bloedskenk te sien wees, besig om worsbroodjies te maak. Elke bloedskenker, sal op dié dag ’n gratis wordbroodjie kry.
Vervoer beskikbaar vir bloedskenkers
Algoa Toyota het goedgunstiglik ’n voertuig beskikbaar gestel om bloedskenkers wat nie vervoer het nie, na die kerksaal te neem.
Terwyl bloed geskenk word, sal een van die gemeentelede, Monique Marais ’n paar liedjies sing. Die profetiese danser Annelie Gouws sal ook optree.
- Vir meer inligting of om te reël vir vervoer om by die bloedskenk te kom bel Annalie Gouws by 081 769 7477 of Dorien Nel by 083 611 4367.




