DIE groot verkeersman met die sagte hart se stem is stil.

In ’n laaste eerbetoon aan Willie Louwrens (46) het kollegas en hoëlui van die Nelson Mandelabaai-verkeersdepartement ’n spesiale verbyry-seremonie by Willie se huis op Despatch gehou nadat hy weens COVID-19 gesterf het.

Prins

Warren Prins, direkteur van Nelson Mandelabaai se verkeer en lisensiëring by Willie Louwrens se weduwee, Karien. Foto’s:HEILIE COMBRINCK

Louwrens was ’n diabeet en nadat hy COVID-19 positief getoets en 14 dae lank in die hospitaal was, het dié virus op 13 Julie sy lewe geëis – dieselfde dag waarop sy pa en stiefma begrawe is nadat hulle ook weens COVID-19 gesterf het.

Warren Prins, direkteur van Nelson Mandelabaai se verkeer en lisensiëring, het gesê dit is ’n voorreg om ’n laaste eer- betoon vir ’n merkwaardige en toegewyde beampte soos Willie Louwrens te lewer.

“Die lewenspad is vol uitdagings, en ons wat geroep is om ’n professie te volg waar ons ons gemeenskappe moet dien en beskerm, het met baie struikelblokke te doen.

“Tog is daar so-veel individue soos Willie, wat ons deur hul sterk leierskapeienskappe inspireer om hierdie uitdagings te oorkom.

“Ek sal Willie onthou as ’n man wat van gadgets gehou het. Hy het dikwels gesê, ‘Meneer, kom kyk gou hier…’ en dan het hy my met trots gaan wys wat is die nuutste toevoeging aan sy bakkie.

Willie Louwrens. Foto: VERSKAF

Louwrens se vrou Karien was oorstelp oor die seremoniële gebaar.

“Die eerbetoon deur sy kollegas was baie spesiaal. Dit was sy droomwerk. Hy was voorheen in die Suid-Afrikaanse Weermag en het vir 10 jaar aanmekaar aansoek gedoen om by die verkeersdepartement in te kom.

“So, die laaste 17 jaar van sy lewe het hy sy passie uitgeleef.

“Selfs toe hy nog in die weermag was, het hy ge-reeld verkeersoortreders afge-trek en hulle berispe.”

Karien sê wat sy altyd van haar man sal onthou, is dat hy “geleef het vir sy werk; opgeruimd en altyd vol smiles en grappies was.”

Piet Pretorius, Louwrens se skoonpa, sê hulle as familie voel baie geëerd dat Willie se oud-kollegas hom op só ‘n wyse gehuldig het.

Despatch

In ’n laaste eerbetoon het kollegas en hoëlui van die Nelson Mandelabaai-verkeersdepartement en kollege ’n spesiale verbyry-seremonie by die huis van Willie Louwrens op Despatch gehou nadat hy weens COVID-19 gesterf het.

Lede van Nelson Mandelabaai-verkeersdepartement en -kollege tydens die spesiale verbyry-seremonie wat vir hul afgestorwe kollega Willie Louwrens by sy huis op Despatch gehou is.

“Willie was geliefd deur almal. Selfs die taxi-ouens aan wie hy derduisende rande se boetes uitgeskryf het, was erg oor hom.

“Hy was ’n baie netjiese en trotse man. As hy dubbelskof gewerk het, sou hy in sy etensuur tussen skofte gou sy verkeers- motor kom was.

“Ons sal sy stoutgat-gesig mis, en waar hy jou ’n streep kon trek, het hy dit gedoen,” sê Piet.

  • Willie laat sy vrou Karien en hul seun De Wet (6) agter. ’n Herdenkdiens word môre by die Algoa Community Church, Chestnutstraat, Algoapark om 11:00 vir Willie Louwrens gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article