Ben, Kariega se bekendste hond, wat selfs nasionaal aandag geniet het oor sy gereelde regoor-die-dorp-roetinebesoeke aan eetplekke vir bederfkos, is dood nadat hy naby sy slaaphok raakgery is.
Sanet Welgemoed, sy “mense-ma” en eienaar van Engen Fairbridge Motors wat Ben die afgelope 12 jaar versorg en met liefde oorlaai het nadat hy deur sy vorige eienaars in ’n erf agtergelaat is, se hart is gebroke.
“Mense verstaan nie hoe oneindig lief ek vir Benna was nie. Daardie goudbruin oë van hom het in my siel ingekyk. Ek sal sy inloer en kop op my skoot om te kom kyk of ek oukei is, nooit vergeet nie. Hy was meer as ’n hond, hy het siel gehad,” sê Sanet .
“Ben het nie hondepille gekry nie, hy het elke dag hoenderfillette gekry. Ben het nie plein Beenos geëet nie, dit was boontjiegeur Beenos. Ben sou sy siel verkoop vir melk.”
Ben is op Dinsdag, 7 Junie om sowat 18:35 in Aalwynrylaan, regoor die vulstasie waar hy in sy hok gebly het, deur ’n voertuig getref. Die ongeluk is op die vulstasie se sekuriteitskameras vasgevang.
“Dit is verskriklik. Benna was amper op die sypaadjie toe die voertuig hom tref en hy deur die lug getrek het. Die mens wat hom raakgery het, het nie gestop nie. Benna het na sy hok gehardloop. Daar was geen uitwendige beserings nie, maar hy het inwendig baie seergekry. Na die veearts-ondersoeke is aanbeveel dat dit tyd was om vir Benna te groet,” sê Sanet.
Gedenk-geleentheid vir Ben
Ben se aanhangers het hul woede oor die ongeluk op sosiale media gedeel.
In ’n laaste groet aan dié bekendste en geliefde hond van Kariega, word ’n kort gedenkgeleentheid Saterdag, 18 Junie, 11:00 deur dié Ben-aanhangers by Engen Fairbridge Motors gehou.
Juandré Deyzel, die organiseerder van dié gedenk-geleentheid sê, “Ben was ‘n regte nomad, baie street wise en ‘n legend. Ek salueer Sanet wat deur al die jare Ben so mooi versorg en hom so liefgehad het.”


