Leerders van Masiphathisane senior sekondêre skool op hul besoek aan die Nelson Mandela Universiteit se wetenskap laboratorium.

Foto: Charles Pullen

“Om Chemiese Wetenskap as ‘n vak aan te bied is soms moeilik, maar met dié werkwinkel het ek vandag geleer hoe om dit maklik te maak en om dit interesant te hou vir die leerders.”

Só het Shirley Cook, ‘n onderwyser by La Trobe Primêre Skool in Enon na afloop van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) se Chemie-werkwinkel op Kirkwood gesê. Cook was een van sowat 20 Oos-Kaapse onderwysers wat vroeg uit die vere in hul wit jassies was om die praktiese werkwinkel by te woon.

Die rondreisende werkwinkels vir laerskoolonderwysers word in samewerking met SUNCOI (die Universiteit Stellenbosch se Chemie-uitreikingsinisiatief) aangebied. Die onderwysers het altesaam agt praktiese eksperimente met huishoudelike middels soos kookolie, asyn, water, koekmeel en koeksoda, gedoen.

Dr Rehana Malgas-Enus, ’n senior lektor by die Departement Chemie en Polimeerwetenskap van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe, het die werkwinkel aangebied. Sy is deur Jabu Lukhele, wat ook verbonde aan dieselfde department is, ondersteun.

Die chemie-werkwinkel in Kirkwood was die vierde een vir die jaar. Die eerste een is in Kranshoek in Plettenbergbaai gehou wat gevolg is deur een in Atlantis en nog een in Springbok, Noord-Kaap.

“Al die werkwinkels was baie suksesvol. Ons beskou dit as ‘n sukses as die onderwysers weer passievol is oor die vak en uitsien om die praktiese eksperimente na die klaskamer te neem,” sê Dr Rehana Malgas-Enus.

Wayne Basson, ‘n onderwyser by Mistkraal R.C. Primêre Skool het die SBA en Suncoi geloof vir hul werk. “As ek dit so baie geniet het, sal die kinders dit netso geniet. Ek sien uit om die eksperimente in die klaskamer met die leerders te doen.”

Die SBA en Suncoi het ook 94 fisiese wetenskap-matrieks van verskeie skole in Nelson Mandelabaai Metropool na die Nelson Mandela Universiteit se Wetenskap-laboratorium genooi om hul ‘n voorsmaak te gee wat hulle in die chemie studieveld kan verwag. Dit was die leerders se eerste keer in ‘n regte laboratorium. Gerswin Cupido, projekte-organiseerder van die SBA sê die Chemie-projek het op ‘n hoë noot geëindig. “Dit was ‘n absolute belewenis om te sien hoe die leerders hulself met die laboratorium-besoek geniet het.”

– SHANTEL MOSES, DIGITALE- EN BEMARKINGSBESTUURDER: SBA

Dr. Rehana Malgas-Enus van Universiteit Stellenbosch se Chemie-uitreikingsinisiatief en Kina Muller van Nelson Mandela Universiteit saam met van die leerders wat die wetenskap laboratorium besoek het.

Wetenskap-ondewysers kliphard aan die werk met eksperimente tydens die Chemie Werkswinkel op Kirkwood.

Hier is van die Oos-Kaapse onderwysers wat die Chemie-werkwinkel op Kirkwood bygewoon het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article