DESPATCH – Groot opgewondenheid heers by die Despatch-netbalklub omdat sy bane uiteindelik opgegradeer gaan word.
“Ons bane is regtig nie meer speelbaar nie en daarom sien ons uit na ‘n splinternuwe oppervlak. “Ons gebruik dié bane al sedert 1980, wat beteken dis al 46 jaar oud” sê Erica Niemand, sekretaresse by die klub.

Groot geld word egter hiervoor benodig. Die verwagting is dat dit tussen R50,000 en R100,000 kan kos. Om met die geldinsamelingsproses te help het die klub onlangs sy 28ste gholfdag gehou waaraan 70 spelers deelgeneem het.
“Ons het R15,000 wins gemaak, maar kort nog baie geld. Die opgradering gaan dus nie oornag plaasvind nie,” sê die president, Beatrix Smith.
En wanneer die korrekte bedrag gereed is kan dit drie tot vier weke neem om die proses te voltooi.
Die Laerskool Susannah Fourie het intussen tot die klub se redding gekom en hulle bane aangebied.
“Ons is uiters dankbaar teenoor Susannah Fourie om ons daar te verwelkom. Hulle het ook by hulle binnebaan ligte aangebring wat dit vir ons baie aangenaam maak,” sê Erica.
Dit kan aanvaar word dat die bane met groot makietie ingewy sal word wanneer dit voltooi is. Despatch is die oudste klub (82 jaar) in die Oos-Kaap en gaan steeds van krag na krag.





You must be logged in to post a comment.