KIRKWOOD – Nick (79) en Lorraine Mostert (74) het op 16 Januarie hul 55ste huweliksherdenking gevier. Die egpaar is tans woonagtig op Kirkwood.
Nick het destyds in Kaapstad gewoon en het vir Lorraine deur “Toek se soek hoekie” ontmoet.
Lorraine het toe op Kimberley gebly, en Nick het gereeld vanaf Kaapstad na Kimberley ge-ryloop om haar te besoek. So het hulle verlief geraak en op 16 Januarie 1971 in die huwelik getree in Kaapstad.

Uit die huwelik is vier kinders gebore – drie seuns en een dogter. Vandag is die egpaar die trotse grootouers van nege kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Hul seun, Bertus Mostert, sê: “Ek wil graag namens die familie vir ons ma en pa baie geluk wens met hierdie 55-jaar mylpaal. Ons is baie trots op julle en lief vir julle. Baie dankie dat julle al die jare sulke wonderlike ouers vir ons was.”
Volgens Bertus glo die paartjie dat eggenote mekaar deur dik en dun moet ondersteun met eerlikheid, liefde en baie geduld.
“Hulle het ons geleer om daar te wees vir mekaar, en om nooit te vergeet dat die Here julle as huweliksmaats moet lei nie.”






You must be logged in to post a comment.