KARIEGA – Altesaam 81 sportspanne sal op 27 en 28 Februarie aan die Bergsig Skool se gewilde Build It-sportfees deelneem.
Dit sal die vierde jaar wees dat dié fees spanne in netbal en rugby lok.
JD Esterhuizen sê die fees is besig om in gewildheid te groei.
Die skool het vier jaar gelede met ‘n beskeie 40 spanne begin en verlede jaar het 65 spanne aan die opwindende aksie deelgeneem.
Met sestien meer spanne wat volgende maand gaan deelneem dui dit daarop dat die getal in 2027 nóg hoër kan wees.
Esterhuizen sê die fees beloof om soos altyd ‘n groot naweek te wees op die plaaslike sportkalender.
Dit gee al die skole in die omgewing geleentheid om hul verskeie spanne reg te kry vir die komende seisoen.
Agttien spanne sal aan die o.13-netbalwedstryde deelneem, terwyl die hoërskole ook deur 18 spanne verteenwoordig sal word.
By die o.13-rugbyspanne sal 20 spanne in aksie wees en 25 by die hoërskole.
Daar is talle tweestryde om na uit te sien.
Onder hulle is Bergsig se eerste rugbyspan wat Muir College om 19:00 op die Vrydagaand pak.
Dan word ook reeds lippe afgelek vir Despatch se kragmeting met Port Rex, en Pearson se stryd teen Andrew Rabie.
Die Saterdag se hoofwedstryd is tussen Bergsig en Westering waar die afskop ook om 19:00 onder spreiligte sal wees.
- Belangstellendes wat graag stalletjies wil bespreek word aangeraai om so gou as moontlik met Marco Griesel by 083 396 1288 in verbinding te tree.





