‘n Plaaslike wyksraadslid waarsku inwoners tans teen swendelaars wat hulle as amptenare van die Stad Kaapstad voordoen.
Miquette Temlett, die raadslid vir wyk 5, wat Edgemead, Bothasig, Richwood, Burgundy Estate en Edgemead insluit, het dié waarkuwing verlede week op haar sosialemediablad uitgereik.
Sy het inwoners gewaarsku om bedag te wees.
Swendelaars, wat hulle as amptenare van die Stad voordoen, kontak inwoners via WhatsApp, beweer dat die inwoner se munisipale rekening agterstallig is en eis betalings via e-wallet om sodoende te verhoed dat hul water afgesny word. Die jongste voorval is in Goodwood aangemeld, verduidelik sy.
Sy sê dat die Stad nie inwoners per WhatsApp inlig dat hul dienste afgesny sal word nie; dat geen amptenaar van die Stad betaling via e-wallet of persoonlike bankrekening mag versoek nie; en dat betaling slegs deur die Stad se amptelike kanale gedoen mag word.
Temlett moedig inwoners aan om sulke voorvalle aan te meld.
Skakel die Stad se bedrogslyn by 0800 32 31 20 of meld dit per e-pos by fraud.hotline@capetown.gov.za aan.





