Die geluksgodin
het vir hulle geglimlag toe ’n paartjie van Kraaifontein die week uitgevind het
hulle gaan die wedstryd van die Springbokke teen Ierland tydens die
Rugbywêreldbeker in Frankryk kyk.
Die gelukkige
trekking van Bok Radio se Wys Jou Bok Hart-kompetisie het Dinsdagaand by die
Heroes-restaurant in Brackenfell plaasgevind.
Vir ‘n kans om
die gesogte prys, wat vlugkaartjies en verblyf insluit, moes deelnemers die
afgelope tyd daagliks kodewoorde versamel om 30 vrae te antwoord. Daarna het
132 finaliste aan die gelukkige trekking deelgeneem.
Die afwagting was
groot terwyl Bok Radio se hoof- uitvoerende beampte, Wimpie van der Sandt, die
wenkoevertjie oopgemaak het.
Die wenners,
Chris Langenhoven en sy vrou, Zelda, kon nie hul ore glo toe Chris se naam
aangekondig is nie.
Chris het met ’n
bokspring en vuiste omhoog verhoog toe gedrafstap om sy prys te ontvang.
“Dit was ’n
spanpoging tussen my en Zelda. Ons het vir ses weke lank in skofte radio
geluister - van die oggend tot die aand – om leidrade te versamel. Dit is ’n
droom wat waar word!” het Chris aan TygerBurger gesê.
Chris sit sy geld
vanjaar op die verdedigende kampioene. “Ek het so ‘n gevoel die Bokke gaan weer
die beker vat. Rassie het ’n plan gehad in 2019, en hy gaan dit vanjaar weer
vir ons doen,” sê Chris.
Van der Sandt is
verheug dat die kompetisie so goed ondersteun is. “Ek is ongelooflik opgewonde
vir die wenners en dat ons dit vir hulle kon moontlik maak,” sê hy.
Van der Sandt
self is ook hoopvol vir ’n Springbok-sege in Frankryk vanjaar.
“Ek vermoed dat Rassie ’n troefkaart in sy mou het en dat
die Bokke weer die beker gaan vat,” sê hy.
Die
Rugbywêreldbekerkompetisie skop op 8 September af met die wedstryd tussen die
gasheer, Frankryk, en Nieu-Seeland in die Stade de France in Saint-Denis.





