Met ‘n lewensverhaal wat diep met geloof, familie, volharding en roeping verweef is, het die 30-jarige Wellingtonner ds. Dewald Jacobs onlangs sy grootste geestelike mylpaal bereik – sy bevestiging as leraar by die VGK Sarepta in Kuilsrivier.
Jacobs, wat tot onlangs proponent by die VGK Wellington was, vertel dat sy roeping nie sommer net op ‘n dag ontstaan het nie – dit was daar sedert geboorte.
“Ek glo met my hele hart dat God my reeds sedert geboorte tot teologie en die bediening geroep het,” sê hy.
As net ‘n baba moes hy weens ‘n ventrikulêre septale defek (VSD) ‘n hartoperasie ondergaan. Dit was ‘n traumatiese tyd vir sy gesin, maar die geloofs-anker was altyd daar. “Die gebede van my familie en tuisgemeente, VGK Wellington-dorp, het my gedra.”
Jacobs vertel verder hoe sy ouma, Ella Lawrence, sy roeping al van sy kleuterjare af bevestig het.
“Sy het my altyd herinner dat ons wyks- ouderling en buurman, broeder Ampie de Vries, met my eerste verjaarsdag ná die operasie ‘n profetiese woord gespreek het dat ek eendag ‘n predikant sal word.”

Maar dit was die verlies van sy ouma in 2015 wat uiteindelik die pad vorentoe duidelik gemaak het.
“Ek het toe die sterk [Goddelike] oortuiging gekry dat ek haar droom moet verwesenlik en met my teologiese studies begin.”
Jacobs se geestelike vorming het diep wortels in die VGK Wellington.
“Nie alleen het die gemeente my in gebed opgedra nie; hulle het ook aan my die ruimte gebied om in die kerk groot te word,” sê hy.
Jacobs het sy eerste preek op net 17 by ‘n jeugdiens gelewer.
“Die tema was ‘Jy is nooit te jonk nie’ en ek dra dit vandag nog saam.”
Jacobs se pad na teologie was egter nie liniêr nie.
Hy het ná matriek in 2013 begin om BCom- finansiële rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer. Ná sy ouma se dood het sy roeping harder begin roep. Sy ma het hom egter aangemoedig om eers sy graad klaar te maak – wat hy in 2017 wel gedoen het.
Dié jaar (2017) was ‘n keerpunt. Hy het sy BCom-graad ontvang en terselfdertyd as eerstejaarteologiestudent ingeval.
“Ek het soveel seëninge ontvang . Ek het my verloofde, Whitney Muller, ontmoet, ek is tot voorsitter van die teologiese studentekomitee verkies en het twee dekaanstoekennings ontvang.”
Jacobs het sy BDiv cum laude in 2020 voltooi en in 2021 sy MDiv, ook cum laude.
Hy is tans besig met sy doktorale studies.
Jacobs is in 2021 as proponent gelegitimeer.
Sy bevestiging het met ander groot familie-afskeide saamgeval.
Sy pa, kapt. Damon Jacobs, het onlangs ná 40 jaar se diens by die Paarl-polisie afgetree.
Sy ma, suster Denise Jacobs, het op 30 November haar 34-jarige loopbaan by Sonstraal-hospitaal afgesluit.
“Hul opoffering het dit vir my en my broer moontlik gemaak om te studeer.”

Jacobs se intree-preek die volgende dag het hom onmiddellik teruggeplaas in die werklikheid van die gemeenskap wat hy nou dien.
“Ek kon nie my nuwe hoofstuk begin sonder om ag te slaan op die uitroepe van ons vroue en kinders nie. Die bediening gaan oor om met mense te werk en om in hul hartseer te deel, maar ook die wonder van God se werke in hul lewens te ervaar.”
Op 30 is hy een van die jongste VGK-leraars in die streek. Hoe hanteer hy die verwagtinge van ‘n tradisionele kerk waar lidmate soms die Woord eerder van die “ouer garde” wil hoor?
“Met nederigheid,” sê hy.
“Ek is gelukkig om saam met ds. Anne- Marie Cloete-Damons te werk. Sy is ‘n ervare leraar by wie ek baie kan leer.”
Hy sê hy is nog altyd net goed deur ouer lidmate ontvang – selfs as proponent. Hy glo dat die kerk, soos die wêreld, plek het vir geslagte om saam te bou.
“Ons leef in ‘n tyd van tegnologie en verandering. Dit kan spanning tussen generasies skep, maar dit is belangrik om nie die spanning weg te wys nie. Ons moet saam hande vat tot opbouing van God se Koninkryk.”






You must be logged in to post a comment.