Ná vele klagtes word die haweloses se tente voor Villa Casa Blanca afgebreek, maar die vraag op almal se lippe is vir hoe lank?
’n Inwoner van Goodwood vertel hoe opgewonde hulle was toe die strukture wat in Spencerstraat opgerig is wel einde ten laaste afgebreek is.
“Maar nou lyk Riebeekstraat soos ’n hool.”
Hierdie inwoner vertel reg voor Villa Casablanca in Riebeekstraat is vier strukture gebou uit bord, karton en planke. Daar is ook drie tente opgerig en dit lyk naar.
“Dit ruik soos ’n varkplaas met al die mense wat daar bly.”
Sy vertel dat sy al baie klagtes by die Stad Kaapstad ingedien het.
“Hulle verkoop openlik dwelms en prostitusie vind ook daar plaas. Dit is baie onveilig om daar verby te stap. Die jongens hardloop heen en weer voor en agter jou verby. Jaag mekaar kamstig, maar eintlik probeer hulle jou beroof,” vertel die inwoner.
Rotte hardloop heen en weer oor die pad van die strukture en tente na Shoprite en terug. Volgens die inwoner word al die haweloses se vullis gestort op die sypaadjie reg voor Shoprite se afleweringsdepot.
“Dis klere, skoene en vullis. Hul gewaste klere hang hulle op aan die omheining van Shoprite se afleweringsdepot. Dis walglik. Hulle maak tot vuur op die sypaadjie om koperdrade skoon te brand reg voor Villa Casablanca in Riebeekstraat nommer 10 waar hulle woon.”
Wetstoepassers is herhaaldelik gebel
Wetstoepassers is al herhaaldelik gebel, maar niks word daaraan gedoen nie. Volgens die inwoner kry jy ’n verwysingsnommer en twee dae later ontvang jy ’n sms wat sê die saak is opgelos, maar niks is gedoen nie. Die mense is nie verwyder nie.
Wayne Dyason, woordvoerder van wetstoepassing, sê die Stad Kaapstad se Wetstoepassingsafdeling bevestig dat ’n toepassingspatrollie op Maandag 27 Maart in die gebied uitgevoer is.


