Die politici het baie te sê oor die muur — daai een wat ou Geordie langs die N2 wil bou.
Wat bedoel is om misdaad langs een van ons gevaarlikse hoofweë te help hokslaan, is intussen bestempel as ‘n “apartheidsmuur”, die “Berlynmuur”, “muur van skaamtes” wat ten doel het om ons “arm gebiede weg te steek”, net “nog ‘n skeidingslyn” …
Dan is daar ook die wat wil sien dat die geld beter aangewend word, want dis ‘n “oppervlakkige oplossing wat net weer afgebreek gaan word”.
LEES OOK: City faces backlash over R114m N2 security wall project
Ek wonder hoeveel van daardie politici wat so vinnig op hul perdjies gespring het, net ter wille van teenspraak maak, regtig na die groter prentjie gekyk het en die voordele van so ‘n muur opgeweeg het.
Met ‘n besoek aan Oostenryk so twee jaar gelede het ek my verwonder aan die hoë mure langs Wene se hoofweë.
Vir die oningeligtes, Oostenryk is onder die top-20 rykste lande in die wêreld. Die land se hawelose bevolking is maar 0,22% van sy totale bevolking en ‘n “shack” is ‘n berghut of herberg in die Alpe. Dis ‘n natuurskone land, met pragtige historiese geboue.
Nou hoekom dan ‘n muur langs die snelweg as hulle niks het om weg te steek nie?
Wel, die hoofdoel is om klankbesoedeling te beperk. Die omliggende woonbuurte word beskerm teen die konstante gedreun van voertuie. Tesame daarmee bevorder dit biodiversiteit en hernubare energie.
“Groen” ekovriendelike mure word bedek met plantegroei wat ‘n habitat skep vir insekte en voëls, en ook stedelike temperature help verlaag. Verder dien van dit as sonkrag-geraasversperrings wat krag opwek. Daar word selfs al geëksperimenteer om wind wat deur verkeer geskep word deur middel van vertikale turbines binne die infrastruktuur in hernubare krag om te skep.
Hoë mure langs snelweë is ook nie uniek aan Oostenryk nie.
Langs Duitsland — die einste land wat ook ‘n politieke skeidingsmuur afgebreek het — se autobahn, ‘n snelweg waarvan 70% geen amptelike spoedperk het nie, is hoë mure ingespan om geraas te beperk. Ook daar is baanbrekerswerk gedoen met sonkrag-aangedrewe versperrings en plantbedekte “groen” mure wat klank absorbeer terwyl dit stof filtreer.
Volgens Facebook-gerugte het België se snelwegmure innoverende ontwerpe, insluitend mure wat soos klaviersleutels gevorm is en aërodinamika gebruik om subtiele musikale tone te skep. Ek is die eerste persoon wat vir jou gaan sê jy kan nie alles op sosiale media glo nie en twyfel dus of dit waar is, maar dink net hoe besonders so iets sou wees.
Die Tsjeggiese Republiek het wel innoverende snelwegmure. Die “Noba”, soos dit daar bekend staan, is gemaak van herwinde bande, wat geraas doeltreffend absorbeer. Dit het selfs in 2020 ‘n gesogte Red Dot-toekenning gewen.

Japan, die VSA (die Trompetter se skeidingsmuur uitgesluit), Kanada, Nederland, Pole … die lys gaan aan.
Vir ongeveer 10 jaar het ek reg langs ‘n snelweg gewoon — vyf daarvan langs die punt waar twee van die Kaap se besigste snelweë by mekaar aansluit. Dit was doelloos om in die somer die namiddagnuus of Egoli te probeer kyk. Die televisie se klank kon net nie kompeteer nie. Ek kan myself indink watse impak ‘n muur op klankbesoedeling gaan hê vir mense wat reg langs die N2 woon.
Kombineer dit met die veiligheidsvoordele vir beide daardie inwoners en motoriste, dan klink die muur mos ná ‘n blink plan. Sit so bietjie ekstra beplanning, innovering en finansiële steun daaragter en dit kan ook bydra tot die kragnetwerk … onthou beurtkrag?
LEES OOK: Cape Town tables R114m budget for N2 Edge safety upgrades
As jy my vra, is dit iets wat langs al ons snelweë kort, nie net ons gevaarlikste paaie nie. En nee, vibracrete is nie die oplossing nie.
Dit voel egter vir my asof sommige van ons politici weer agteruit wil boer net omdat daar ‘n verkiesing om die draai is.






You must be logged in to post a comment.