Image for illustration purposes.

Photo: Pixabay

’n Buurman van ’n bejaarde vrou wat onlangs in Kehrwiederstraat, Welgelegen, van haar eiendom beroof is, het verlede week aan TygerBurger vertel hoe hy op dié betrokke dag die vrou te hulp gesnel het (“Elderly woman robbed”, 17/4).

Paul Kruger, ’n voormalige buurtwaglid, het vertel dat hy op die dag van die voorval op Donderdag 14 April ’n oproep van ’n buurman ontvang het. Dié het hom ingelig dat die slagoffer in haar kamer toegesluit was. Hy het na die betrokke woning gegaan om ondersoek in te stel, en het met behulp van die private sekerheidsmaatskappy District Watch daarin geslaag om die deur oop te sluit, vertel hy.

Die slagoffer het aan Kruger vertel wat gebeur het – dat die verdagte glo voorheen by haar gewerk het.

“Sy was van plan om koffie te maak toe hy haar skielik aangeval, haar na die kamer gedwing en haar trouring gesteel het,” sê Kruger.

Kruger sê hy het haar familie gekontak, sowel as die polisie.

Die voorval word tans ondersoek.

“Beeldmateriaal van die kringtelevisie is ook aan die polisie oorhandig, wat kan help met die ondersoek,” sê hy.

Kruger voeg by: “Dit is ongelukkig so dat ouer mense in die gebied geteiken word, en dié voorval moet as ’n waarskuwing aan inwoners dien om versigtig te wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article