’n Onbekende bejaarde man is verlede Woensdag in Kraaifontein deur ’n vragmotor doodgery toe hy met sy kierie oor die pad gesukkel het.
Die ongeluk het omstreeks 11:00 op die hoek van Voortrekkerweg en Van Riebeeckstraat plaasgevind.
Die man, wat net bekend is as “Oupa” aan die straatverkopers wat hom elke dag sien, het ’n bestaan gemaak deur pamflette van plaaslike winkels op die straathoeke uit te deel.
“Hy was glo voorheen in ’n ongeluk, dis daarom dat hy met ’n kierie so mank geloop het. Miskien was hy te stadig om oor die pad te loop toe die lorry hom omgery het,” sê Jan Ruiters van Scottsdene, wat ten tyde van die ongeluk naby was.
Na bewering het die 22-wiel-vleistrok regs oor die pad gedraai by die kruising en het die bestuurder die bejaarde man nie betyds gesien nie.
Omstanders was erg getraumatiseer deur die grusame ongelukstoneel en verskeie paaie is deur die polisie ná die ongeluk gesluit.
Die provinsiale polisie het bevestig dat ’n saak van strafbare manslag deur die Kraaifontein-polisie ondersoek word.
“Die omstandighede rondom die ongeluk wat gelei het tot die dood van die onbekende man, word tans ondersoek.
Enigiemand met inligting word versoek om die polisie by 08600 10111 te kontak,” sê sers. Wesley Twigg van die polisie se mediakantoor.





