Inwoners en ander belanghebbendes kan nou kommentaar lewer op die Stad Kaapstad se direktoraat vir stedelike mobiliteit se voorstelle vir die verbetering en konstruksie van toeganklike geriewe vir voetgangers en fietsryers in Kuilsrivier.
Die openbare deelnameproses vir die “nuwe universeel toeganklike infrastruktuur vir niegemotoriseerde vervoerfasiliteite (NMT)”, soos die Stad in amptelike dokumente daarna verwys, het Maandag 10 Oktober begin en sluit op 10 November.
Die eerste van twee openbare inligtingsessies vind more (Donderdag 13 Oktober) van 15:00 tot 19:00 in die komiteekamer by die munisipale kantore in Carinusstraat plaas.
Die ander sessie vind op Donderdag 20 Oktober van 15:00 tot 19:00 in die Kalkfontein-gemeenskapsaal plaas.
Die voorstelle sluit in:
- die bou van nuwe geriewe (“NMT-fasiliteite”) vir voetgangers en fietsryers (voet-en fietspaaie);
- die herstel (rehabilitasie) van bestaande geriewe vir voetgangers (sypaadjies en/of voetpaaie);
- verbetering en aanbring van maklik toeganklike opritte (“ramps”) op paaie wat voorkeur geniet;
- aanbring van nuwe padtekens om veilige beweging van mense te bevorder en te verbeter;
- voorsiening van nuutontwerpte parke en die verbetering van bestaande parke;
- voorsiening van straatligte by die nuwe gedeelte “NMT-fasiliteit” (paadjie) langs die Kuilsrivier-kanaal.
’n Verslag oor “die konstruksie van niegemotoriseerde fasiliteite en universele toegang in die Kuilsrivier-gebied: Fase 2” wat in September aan subraad 21 voorgelê is, gee ’n oorsig van die projek in wyk 11 en 19.
Daarvolgens sluit die projek nuwe sypaadjies, sowel as die rehabilitasie van reeds bestaande sypaadjies; die verbetering van nabygeleë parke met sagte en harde landskapering, asook die oprigting van straatligte binne die twee wyke in.
Die konstruksie en implementering van die projek sal volgens die verslag in 2024 begin en die werk sal tot 30 Junie 2025 duur.
Van die strate wat genoem word, sluit Frostweg, Saxdownspad, Amandelweg, Sandalwoodweg, Laurencedale-pad, Sarepta- en Maiselstraat in.




