Verskeie faktore sal vanjaar ’n rol speel wanneer Kapenaars hul kruisies op 29 Mei in die nasionale en provinsiale verkiesing gaan trek.
Hoewel inwoners in die Wes-Kaap min het om oor te kla as dit kom by die instandhouding van provinsiale paaie, pla ander dinge soos die druk verkeer in die metro, stygende lewenskoste en die groot tekort aan skole.
Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) het sowat 2,096 miljoen inwoners in Kaapstad teen 16 Mei geregistreer om op 29 Mei stembus toe te gaan – dit uit ’n bevolking van 4,97 miljoen mense, wat 65,8% van die provinsiale bevolking van 7,433 miljoen is. In die Wes-Kaap het 3,310 miljoen inwoners uit 7,433 miljoen inwoners geregistreer om te stem.
Waarvoor?
TygerBurger het verlede week met ’n paar geregistreerde kiesers in die noordelike voorstede van Kaapstad gesels oor waarvoor hulle in die Wes-Kaap stem en wat werk benodig.
Ettienne le Roux (26) van Brackenfell werk in die gasvryheidsbedryf in Durbanville en is positief oor die toekoms van Suid-Afrika.
Hy vertel dat hy wel in 2019 sy kruisie getrek het langs die party waaraan hy glo, en waarom dit belangrik is dat alle Suid-Afrikaners van die ouderdom van 18 jaar af moet stem.
“Dit is belangrik dat die jeug saam met die ouer garde staan om hul stemme dik te maak om vir alle Suid-Afrikaners ’n beter land en toekoms te skep.
“Ons as die jeug is tog die toekoms van Suid-Afrika en ons is net so belangrik soos elke burger in Suid-Afrika,” sê hy.
Le Roux sê daar moet verseker word dat die Wes-Kaap vooruitgang beleef.
“Kaapstad word alreeds as een van die beste stede in die wêreld erken. Dit sal net 100 keer beter wees as die hele Suid-Afrika as een van die beste lande in die wêreld aangewys kan word, en ek glo dit kan bereik word as die regte party aan bewind is.”
Hy beskou Kaapstad as ’n multikulturele stad wat baie besigheidsgeleenthede vir jong entrepreneurs bied.
“Die Kaapse munisipaliteit loop soos ’n goed geoliede masjien, daarom die groeiende bevolking vir wie daar nie genoeg paaie is om die verkeer te dra nie. Om elke hoek en draai is daar ’n nuwe ontwikkeling, maar die padinfrastruktuur word nie verbeter nie. Die lewenskostes is vir my persoonlik ook baie hoog. Daar is wel huishoudings, waarvan ek weet, wat nie kan bybly met al die kostes nie. Daar is ook baie onwettige immigrante in die Kaap, wat verhoed dat ons eie burgers werk kry.”
Verkeersprobleme
Nes Le Roux voel Hannes Rheeder (71), kleinsakeman van Kraaifontein, dat iets gedoen sal moet word aan die verkeer in Kaapstad.
“Ons dienste in die Wes-Kaap is beter en so ook die paaie, en daar is weinig korrupsie, maar die verkeersprobleme in die metro word deur die Stad Kaapstad geïgnoreer. So kan dit nie aangaan nie.
“Die instroming van mense uit ander provinsies is onbeheerbaar en plaas te veel druk op die bestaande infrastruktuur,” sê Rheeder.
Volgens Stats SA sal die Wes-Kaap in die tydperk van 2021 tot 2026 een van die grootste invloei van migrante ervaar – ongeveer 460 489.
Rheeder voeg by: “Jy moet stem; jy kan nie langs die kantlyn sit en kla nie.”
Johan Potgieter (59), ’n afgetrede weermaglid van Durbanville, meen kies-geregtigde burgers wat nie stem nie, kan geen kritiek uitspreek teenoor enige politieke party of regeringskwessies in die land nie.
“As jy nie stem nie, beteken dit jy lewer geen bydrae tot enige regeringskwessie in die land nie,” sê hy.
Potgieter sê daar is nie veel om oor te kla in die Wes-Kaap nie, en hy prys die netheid van die paaie.
“Die staatsklinieke en hospitale is wel onvoldoende en het baie werk nodig,” sê hy.
Riaan Gouws (64), afgetrede polisieman van Bellville, sê hy stem vandat hy ’n jong man is met elke verkiesing, nasionaal en plaaslik.
“Om te stem is die enigste manier om demokrasie te onderhou en om verandering te weeg te bring,” sê Gouws.
Hy sê die Wes-Kaap word goed bestuur en infrastruktuur, netheid en dienslewering is onvergelykbaar met die ander provinsies in die land, waar hy gereeld rondry.
“Die Wes-Kaapse regering maak hom ook nie skuldig aan korrupsie nie, en wend daadwerklike pogings aan om die land se ekonomie te laat groei.”
Hy voel egter dat die Wes-Kaap nie daarin slaag om die verkeersprobleme in die Kaapse metro op te los nie, veral om in en uit die metro te pendel, en dat pad-infrastruktuur in woonbuurte nie genoeg aandag geniet nie.
“Die tyd en geld wat verlore gaan net om in Kaapstad rond te ry, is verregaande en die kleiner paaie in ons woonbuurte word nie goed genoeg in stand gehou nie.
“Ons slaggate is nou onlangs vir ’n slag gevul, maar die teer het sommer weer gou uitgekom.”
Ook die instandhouding van stadsparke is volgens hom ’n groot probleem in die metro.
“Instandhouding van parke word baie min gedoen en wanneer dit gedoen word, word dit nie behoorlik gedoen nie. Die speelapparaat is vervalle en die parke is ’n onveilige omgewing vir die kinders om in te speel omdat misdadigers daar in die lang gras wegkruip. Dis ’n tendens wat ek nou oral in die stad sien.”
Groot ommekeer
André le Roux (60), ’n entrepreneur van Brackenfell, meen die politiek en Suid-Afrika gaan vanjaar ’n groot ommekeer beleef en daarom is dié jaar se verkiesing so belangrik.
“Ja, ek gaan beslis stem; elke stem tel. Baie mense trek Wes-Kaap toe om in ’n beter omgewing te woon, wat ’n beter toekoms aan hul kinders kan bied. Daarom is die skole oorvol.
“Ek weet van kinders wat langs skole bly en weggewys word, terwyl kinders uit ander gebiede in dieselfde skole toegelaat word. Daar is doodeenvoudig nie genoeg skole vir almal nie. Die kinders wat in ’n skool se opvangsgebied bly, moet eerste gehelp word voordat kinders uit ander voorstede aanvaar word,” sê hy.
Ook hy het sy kommer oor die gebrek aan padinfrastruktuur in Kaapstad uitgespreek.
“Ons paaie kan nie meer al die verkeer dra nie, en iets drasties sal baie vinnig gedoen moet word. Ons hou aan vra en vra, maar daar word altyd verskonings gemaak of gesê daar is nie geld nie, maar daar is geld vir ander dinge.
“Ook die parke en stasies en openbare vervoer moet verbeter word, sê hy.
“Haweloses slaap oral in die parke en op stasies, waar daar geen sekuriteit is nie.
“Treine loop sleg en is onveilig, en taxidienste is onbekostigbaar en deesdae baie gevaarlik. Eintlik het ons geen betroubare openbare vervoer nie.
Oor verkiesingsbeloftes is hy skepties.
“Daar word nou geskenke uitgedeel en jy kry amper enigiets gedoen as jy jou parlementslid skakel. Maar ná die verkiesing is dit weer ’n gesukkel.”





