’n Vragmotor staan verlede Woensdag dwars oor die pad in spitsverkeer in Koebergweg in Milnerton.

Credit: SYSTEM

’n Ongeluk in Koebergweg in Milnerton het verlede week tot erge verkeersprobleme gelei.

Die ongeluk waarin ’n vragmotor dwars oor die pad tot stilstand gekom het, het in spitsverkeer naby die Astron-raffinadery plaasgevind. Motoriste wat onderweg was na Table View, Bloubergstrand of Dunoon het op sommige plekke meer as ’n uur gewag omdat een baan versper was. Foto’s van die ongeluk is ook op sosiale media gedeel. In een daarvan kon gesien word hoe nog ’n voertuig ook by die ongeluk betrokke was.

Op ’n Facebook-gemeenskapsprofiel het ’n persoon genoem dat dit haar man twee ure geneem het om van die werk tuis te kom. Nog ’n persoon beweer sy het ’n uur en ’n half geneem om van Milnerton te ry.

Kevin Jacobs, woordvoerder van die Stad Kaapstad se verkeersdiens, het gesê niemand is in die voorval beseer nie.

“Die ongeluk het om 17:27 plaasgevind en die pad is om 19:59 weer vir verkeer oopgestel. Daar was drie voertuie by die voorval betrokke,” sê hy.

Hy het bevestig dat ’n vragmotor dwars oor die pad tot stilstand gekom het, en dat ’n insleepwa ingespan is om dit uit die pad te verwyder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article