Die Stellenbosch Universiteit-konservatorium se Endler-saal spog met uitstekende akoestiek.

Die Universiteit Stellenbosch-konservatorium se eerste Endler-konsertreeks van die jaar bied ‘n verskeidenheid van kamermusiek tot jazz asook ‘n nasionale fees vir fluitspelers.

Die seisoen open op Vrydag 20 Februarie met die Cheng² Duo, bestaande uit die broer en suster Bryan Cheng (tjellis) en Silvie Cheng (pianis). Die Chengs van Kanada is bekend vir hul uitdrukkingsvolle, vreugdevolle spel en besonderse musikaliteit.

Foto van Chengs.
Die seisoen open op Vrydag 20 Februarie met die Cheng² Duo, bestaande uit die broer en suster Bryan Cheng (tjellis) en Silvie Cheng (pianis). FOTO: Andrej Grilc

Bryan is die enigste pryswenner van beide die Koningin Elisabeth- en Geneefse Internasionale Musiekkompetisies in die afgelope 40 jaar. Hul optrede sluit werke van Joaquín Nin, Ralph Vaughan Williams, Robert Schumann, Nadia Boulanger en Francis Poulenc in.

Op Dinsdag 24 Februarie kan jazz-liefhebbers regskuif vir Ramon Alexander en sy trio se optrede saam met Martin Zenker, Duitse baskitaarspler, in die Fismer-saal.

Op Vrydag 27 Februarie bied die Wits-trio War and Peace aan in die Endler-saal waarin hulle twee meesterwerke uitvoer — Beethoven se “Aartshertog-trio” en Shostakovich se “Klaviertrio No. 2”, ’n reaksie op die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog.

Fluitfees

Van 28 Februarie tot 4 Maart word Stellenbosch ’n nasionale spilpunt vir fluitspel en -onderrig wanneer die eerste Suid-Afrikaanse Fluitfees (SAFF) aangebied word. Onderwysers en professionele fluitiste kom byeen vir meesterklasse, werksessies, fluitkore en -uitvoerings, met die internasionale gaskunstenaar Gareth McLearnon (Ierland).

Op Dinsdag 3 Maart bied McLearnon die konsert One Voice, Many Colours in die Endler-saal aan, saamgestel rondom sy musiek en deur hom gedirigeer.

Op Woensdag 4 Maart vind ‘n galakonsert, Beyond Breath, plaas met McLearnon en Cobus du Toit wat saam met Nina Schumann (pianis) en ’n professionele fluitensemble optree. Die program sluit die première van ’n nuwe fluittrio deur die gevierde Suid-Afrikaanse komponis Hendrik Hofmeyr in.

Op Vrydag 6 Maart bied William Berger (bariton) en die Juliet-strykkwartet The Broad and Burning Moon aan. Dit sluit Respighi se Il Tramonto, Barber se Dover Beach, nuwe verwerkings van liedere deur Clara Schumann, asook William Alwyn se “Drie Wintergedigte vir strykkwartet” en Borodin se “Strykkwartet No. 2”, in.

Op Vrydag 13 Maart val die kollig op vroeë musiek wanneer Lutesong Consort Cupid’s Arrow – Love Songs from the 17th Century aanbied. Die program ondersoek liefde se vreugdes en pyn deur die duette van Monteverdi, Strozzi, Sances, Kapsperger, Merula en Frescobaldi gesing deur die mezzo-soprano’s Lente Louw en Lusibalwethu Sesanti.

Op Vrydag 20 Maart tree die US-simfonieorkes onder leiding van die Nederlandse dirigent Arjan Tien op, met die mezzo-sopraan Minette du Toit-Pearce as solis. Die program sluit Ravel se “Pavane for a Dead Princess” en Rimsky-Korsakov se Scheherazade in.

Kaartjies is beskikbaar by Webtickets.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article