Sowat 5 000 hardlopers en stappers het op Donderdag 21 Maart by die Tygervallei-winkelsentrum vir die jaarlikse Tyger Run/Walk-padwedloop oor 6 km of 15 km aangetree.
Buiten Menseregtedag was dit Wêreld Downsindroomdag en R40 000 kon aan die Downsindroomvereniging van die Wes-Kaap, vanjaar se begunstigde, oorhandig word.
Volgens Kevin Lodge van Top Events het die getal deelnemers aan die Tyger Run/Walk aansienlik gegroei en dra die gesinsvriendelike omgewing van dié wedloop tot die reusesukses by.
Selfs Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, het vanjaar kom saam stap.
Die wedloop word deur Top Events aangebied in samewerking met die Tygervallei-winkelsentrum, Radio Tygerberg 104FM, TygerBurger en die Durbanville-atletiekklub.
Besoek TygerBurger op Facebook vir nog foto’s.





