Ter illustrasie. Foto: Reuters


Twee mans van Old Crossroads naby Nyanga het Donderdag in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn in verband met ’n inbraak in Proteahoogte verlede week.

Die twee is Maandag omstreeks 11:25 deur sekerheidsbeamptes van Titanium Securitas in Ronellestraat vasgetrek.

“Die beamptes was besig met roetinepatrollies toe hulle die twee mans met ’n swaar sak sien stap het,” sê Erica Crous, polisiewoordvoerder.

Die mans het na bewering foto’s van huise geneem.

“Aangesien die area ’n misdaad-vrotkol is, het die beamptes die mans gevra waarom hulle foto’s van die huise neem.”

Die mans het probeer weghardloop, maar is vinnig aangekeer.

Die Brackenfell-polisie is gekontak om die sak te deursoek.

“Verskeie tabletrekenaars, ’n skootrekenaar, ’n beursie en kontant is in die sak gevind,” sê Crous.

Die eienaar van die huis in Swie-singel, waar die inbraak plaasgevind het, is met verdere ondersoek opgespoor.

Die huis se agterdeur en staalhek is oopgebreek om toegang te verkry.

Die gesteelde goedere is deur die huiseienaar uitgeken.

Die twee mans is onderskeidelik 32 en 34 jaar oud.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article