Die ongelukstoneel Saterdag 7 Maart op die N7-snelweg naby Bothasig.

Die Wes-Kaapse polisie het bevestig dat die polisie in Bothasig ´n saak van strafbare manslag ondersoek nadat ´n gru-ongeluk die afgelope naweek op die N7-snelweg die lewe van twee mense geëis het.

Nuus oor die voorval is op sosiale media versprei.

Die ongeluk, waarby ´n enkele tenker-vragmotor betrokke in was, het Saterdag (7 Maart) omstreeks 15:40 op die hoofweg naby die Bosmansdamweg-oprit in Bothasig gebeur. Die linkerste baan (noordwaarts) op die N7 was tydelik vir verkeer gesluit.

Thembakazi Mpendukana, ´n provinsiale polisiewoordvoerder, sê volgens verslae het ´n 40-jarige manlike bestuurder glo beheer oor die vragmotor verloor, waarna dit eers teen ´n versperring en toe teen ´n brug se pilaar gebots het.

Die bestuurder en sy ´n 31-jarige manlike passasier is op die toneel dood.

Geen ander voertuie was by die ongeluk betrokke nie, sê Mpendukana.

Die saak word tans ondersoek.

Luidens media-berigte is die oorledene as Rodric Zenda, ´n Zimbabwiër, geïdentifiseer. Die passasier is sy broer.

Die SA Trucker- sosiale mediablad berig Zenda was ´n welbekende eienaar en bestuurder van ´n vragmotor. Die blad berig verder dat die tenker-vragmotor ten tyde van die voorval leeg was en dat die twee broers onderweg was om dit te hervul. Die Astron-raffinadery is enkele kilometers van die toneel af.

Die Bothasig-gemeenskapspolisiëringforum (GPF), wat ook nuus oor die voorval gedeel het, het hul medelye met die slagoffers se naasbestaandes betuig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article