’n Jong man van Durbanville is verlede week voor stok gekry nadat hy voorverlede Sondag vroegoggend in Goedemoed herhaaldelik oor drie kolganse gery het.
Die man, ’n student, is op sekerheidskameras van die CGW (The Crest, Goedemoed, Wellwaypark)-buurtwag afgeneem toe hy omstreeks 02:30 die drie kolganse raakgery het. Hy het glo heen-en-weer oor die kolganse gery.
Die drie karkasse is die volgende oggend ontdek.
Volgens Theo Bruwer, voorsitter van die buurtwag, het hulle die kameras nagegaan en die skuldige se motor by ’n kompleks in Durbanville opgespoor en aan ’n plakker uitgeken.
Nadat die man oor sy daad gekonfronteer is, het hy om verskoning gevra en ooreengekom om gemeenskapsdiens met diere te verrig.
“Ons het ooreengekom om nie sy naam openbaar te maak nie. Dis ook nie ons doel om ’n jong man se lewe met ’n strafregtelike klagte te verwoes nie, maar ons kan ook nie wegkyk as iemand doelbewus en heen-en-weer oor diere ry nie.
“Ons gaan nie elke persoon wat per ongeluk ’n kat raakry, ontbloot nie, maar wil ’n bewustheid skep dat jy nie gaan wegkom as jy doelbewus aanjaag nie; jy sal gestraf word,” sê Bruwer.
Die jong man se verweer was dat hy die vorige aand gekuier het en nie by sy sinne was nie. “Hy het gesê hy gaan sielkundige hulp kry en het ingestem om gemeenskapsdiens te verrig. As hy dit nie gaan doen nie, sal ons die voorval by die owerhede aanmeld,” sê Bruwer.





