Minister Senzo Mchunu.

Supplied

Die polisieminister kan maar hoeveel lipstiffie op die vark sit, maar dit oortuig nie inwoners wat daagliks onder geweld en misdaad gebuk gaan nie.

Dit is die gevoel van gemeenskappe in misdaadgesteisterde gebiede in TygerBurger se verspreidingsgebied.

Senzo Mchunu, minister van polisie, het onlangs die jongste misdaadstatistieke bekend gemaak en daar is vreeslik gewag daarvan gemaak dat veral die moordsyfer nasionaal gedaal het. Hoewel dit noemenswaardig is, voel die inwoners van die gemeenskappe op die Kaapse Vlakte nie dié verligting nie.

“Die minister moet dit vir die familie van die oupa wat onderweg skool toe geskiet is, kom sê. Hy moet dit vir die gemeenskap kom sê wat te bang is om eens winkel toe te gaan, want hulle kan dalk onderweg vermoor word. Gaan sê dit vir die ma wie se kind in die huis deur ’n dwaalkoeël getref is,” sê Imraahn Mukaddam, ’n bekommerde inwoner en kampvegter teen misdaad in Elsiesrivier.

Mukaddam sê op ’n gewone naweek in Elsiesrivier kan tot ses mense doodgeskiet word. “Die gewone man op straat ervaar Elsiesrivier as ’n oorlogsone en al bak die minister ook baie mooi broodjies, gaan dit sleg in die strate,” sê hy.

Hubert Kemp, ’n pastoor en gemeenskapsleier van Eersterivier, sê elke bietjie goeie nuus is welkom, maar daar moet soveel meer gedoen word. “Dit bekommer my dat soveel jongmense toegang tot vuurwapens het in ons gemeenskappe. Saans as jy slaap, hoor jy die skietery, maar niemand word ooit in hegtenis geneem nie. Waar is die polisie dan?” vra hy.

Kemp se seun, Edward, is ook verlede jaar sinloos doodgeskiet. “My seun het nie verdien om te sterf nie, maar so gaan dit op die Kaapse Vlakte. Mense sterf terwyl bendes onder mekaar baklei. Die regering sal daadwerklik meer moet doen om ons te beveilig,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article