Daar is tans ’n moddergooiery tussen die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) en die Stad Kaapstad oor wie verantwoordelik is vir die omstrede “probleem-duikweg” in Ruyterwacht, en die mense wat die meeste daaronder ly, is die inwoners van Ruyterwacht.
Andrè Bezuidenhout, inwoner van Ruyterwacht, sê hy kla al jare lank oor die duikweg wat so vol water is, waarop die Stad Kaapstad hom laat weet het dat dit eintlik Prasa se probleem is.
Volgens hom sê die Stad Kaapstad nou al vir meer as vier maande dat hy wel die waterpomp wat foutief is sal regmaak of ’n nuwe een sal installeer. Die duikweg naby Sakabula is tussen Goodwood-stasie en Vasco-stasie.
“Nou gaan mense oor die spoorweg, wat hul lewe in gevaar stel,” meen Bezuidenhout.
Volgens hom loop skoolkinders ook oor die spoorlyn en bejaardes sukkel om by die hospitaal en winkels uit te kom.
“’n Vrou het al geval nadat sy oor die klippe gegly en haar sleutelbeen gebreek het,” sê Bezuidenhout.
‘Stad Kaapstad bewus van die probleem’
Die wykraadslid vir die Ruyterwacht-gebied, Chris Jordaan, het ook al hierdie probleem onder die Stad Kaapstad se aandag gebring. In sy e-pos lê hy spesifiek klem op “Seniors who want to do shopping at Food World”.
Hy meen: “Ons mense weet wie die duikweg se pype steel en ons vervang die waterpomp gereeld, maar dit word net aanhoudend gesteel.
“Ek, byvoorbeeld, het gaan help om mense deur die duikweg in die water op my rug te dra net om inkopies te gaan doen.”
Die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, Rob Quintas, sê die Stad Kaapstad is bewus van die probleem.
Quintas verduidelik “daar is ‘n aantal vervoermetodes wat die Stad deurkruis en in dieselfde mate het ons spoorlyne, provinsiale paaie, nasionale paaie en munisipale/metropaaie. Die verskillende modusse word dan deur die verskillende owerhede gereguleer, naamlik Transnet, Provinsie, Sanral en die Stad. Elkeen van hierdie modusse is geleë op ‘n bepaalde stuk grond wat aan daardie spesifieke owerheid behoort en die spesifieke owerheid is dan oor die algemeen verantwoordelik vir alle bates op hul grond.”
Prasa se verantwoordelikheid
Volgens die Stad Kaapstad beteken die bogenoemde beeld dat Transnet/Prasa die verantwoordelike owerheid is vir die duikweg, insluitend alle instandhouding.
“Tensy daar dan ‘n spesifieke instandhoudingsooreenkoms tussen die owerhede is. In hierdie geval is daar geen ooreenkoms in plek nie aangesien die duikweg in Ruyterwacht nie binne die Stad se bestek van verantwoordelikhede val nie,” sê Quintas.
Histories het owerhede ‘n paar ad-hoc-ooreenkomste aangegaan met betrekking tot roetine-instandhouding en dit kan dan daartoe lei dat een owerheid spesifieke roetine-instandhouding namens die ander doen waar dit sin maak. In hierdie mate is die Stad oor die algemeen verantwoordelik vir straat-tot-straat-duikweë, terwyl dié wat onder spoorweë geleë is, die verantwoordelikheid van Transnet/Prasa is sowel as die oorhoofse voetgangerbrûe by stasies.





