‘n Groep van Spin by die motor waarmee hulle toertjies doen.

SPIN raak mense se lewens


Die band tussen ‘n pa en ‘n seun het daartoe bygedra dat ‘n “spinning”-geleentheid nou bydra tot vermindere misdaad in Lentegeur.

SPIN

Jonathan Schaffers, voorsitter van SPIN (Supporting People in Need) se pa is vermoor toe hy slegs 12 jaar oud was en hy moes by sy oupa gaan woon. As die oudste van vier seuns, het hy sy oupa gehelp om aan motors te werk. Toe sy seun in 2015 in matriek was het hy besluit om saam met hom aan ‘n motor te bou om hul band te versterk.

“Toe die motor klaar was het ek begin soek na ‘n plek waar ons die motor kon toets. Ons ontdek dat daar ‘n stuk grond is wat as The Hills bekend staan en wat in onbruik verval het. Die eerste keer was dit net ek en my nabye familie. Teen die tweede week was daar meer as 100 mense en so het dit net toegeneem. Na twee maande het tussen 3 000 en 4000 mense kom kyk wat ons doen,” sê Schaffers.

LEES OOK: Wiel kom af tydens onwettige spinning, tref negejarige noodlottig teen kop

In 2016 het die munisipaliteit aan sy deur kom klop en gesê wat hulle doen is onwettig. “Hulle sê toe hulle wil nie met ‘n individu soos Jonathan Schaffers praat nie, maar hulle wil praat met ‘n organisasie om ‘n vergadering op te stel. Hulle raai my toe aan om ‘n organisasie te stig sodat hulle met ‘n entiteit kan gesels. In 2017 het byna 30 jongmense in bendegeweld gesterf. Ek het ‘n foto waarop almal is en slegs een lewe nog,” sê Schaffers.

Hieruit is die organisasie Spin (Supporting People in Need) gebore.

Kort daarna het die polisie die organisasie genader en gesê dat hulle die inisiatiewe ondersteun, mits hulle permitte kry. “Ons het met die munisipaliteit gaan gesels en gevra of ons een geleentheid kan aanbied, net om te sien of ons kan,” sê hy.

2018

Hul eerste geleentheid is in 2018 aangebied, maar die volgende jaar moes hulle weer ophou want daar was klagtes oor rook en geraas. “In 2024 het ons ‘n ‘oefen-permit’ ontvang en ons kon voortgaan. Om ‘n groot geleentheid aan te bied kos tot R500 000 en ons mense kan nie altyd bekostig om te ondersteun nie, dus is dit moeilik om daardie geld terug te maak. Die beste is dat ons jongmense van die strate af hou en hulle laat voel asof hulle êrens behoort.

“Ons gebruik ook sosiale media om veral jongmense te inpireer. As ons ‘n video van my seun se ‘spinning’ aanlyn sit, kyk meer as ‘n miljoen mense daarna. Ons gebruik daardie manier om nog jongmense te lok,” sê hy.

Volgens Schaffers het statistieke bewys dat wanneer hulle ‘n geleentheid aanbied, misdaad in hul gebied amper tot stilstand kom. “Ons bied ook werk aan pensionarisse om hulle bietjie te help om kos op die tafel te sit. Ons hoop om hierdie organisasie verder uit te brei om vir ons jeug geleenthede te skep,” sê hy.

LEES OOK: Seven arrested as City cracks down on illegal street racing

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article