Kaapstad se veiligheids- en sekuriteitsdirektoraat het sy snelwegpatrollie-operasies verdedig nadat 2 215 voorvalle op die N2 en R300 tussen Junie verlede jaar en Julie vanjaar aangeteken is, met `n verduideliking dat 85% van die gevalle verband hou met voertuie wat onklaar geraak het eerder as misdaadverwante aktiwiteite, soos aangevoer deur Emre Uygen, `n raadslid vir die VF Plus.
Uygen het vroeër die week in `n verklaring aangevoer dat Kaapstad se N2- en R300-hoofweë oorlogsones vir motoriste geword het met `n skerp toename in klipgooiery en dodelike aanvalle die afgelope tyd. Hy beweer dat die Stad Kaapstad se reaksie oorwegend reaktief eerder as voorkomend is.
JP Smith, burgemeesterslid vir veiligheid en sekuriteit het in reaksie op `n medianavraag verduidelik dat die grootste deel van die bogenoemde insidente proaktief opgespoor word deur middel van moniteringskameras.
Brandpunte word gemonitor
“Die Stad se wetstoepassings-agentskappe patroleer die N2 en R300 24/7 nadat kapasiteit uitgebrei het met die bekendstelling van die verkeersdiens se snelwegpatrollie-eenheid,” sê Smith.
Smith het verduidelik dat hierdie gespesialiseerde eenheid baie motoriste bystaan, met beamptes wat ook rommel, gemors en ander voorwerpe van die pad verwyder tydens patrollies.
Hy het ook beklemtoon dat die polisie die leidende agentskap is vir misdaadvoorkoming, met die Stad se agentskappe waar moontlik in ‘n ondersteunende rol sal optree. Hy het egter opgemerk dat dit weens die vele eise aan dienste nie moontlik is om ‘n deurlopende statiese teenwoordigheid op enige spesifieke plek te handhaaf nie.
Hy het opgemerk dat die Stad sy kringtelevisie-netwerke opgegradeer het om bekende brandpunte te monitor en hulpbronne te herlei na waar potensiële bedreigings geïdentifiseer word omdat opportunistiese misdadigers dikwels rondbeweeg.
Ek stem saam met raadslid Uygun dat ons beter heinings en bykomende intervensies nodig het. Dit is presies waarvoor ek al jare lank veg.
In `n Facebook-inskrywing het Smith gemeld dat opposisie politieke partye met die plaaslike verkiesing om die draai toenemend desperaat raak in hul aanvalle teen die Stad.
“In alle eerlikheid kan ons sê die N2 is `n uitdaging. Maar ons het aansienlike hulpbronne belê om veiligheid op die snelweg vir ons inwoners te verbeter. Tog het raadslid Uygun gekies om die feite te verdraai om by sy narratief te pas.
“Ek stem saam met raadslid Uygun dat ons beter heinings en bykomende intervensies nodig het. Dit is presies waarvoor ek al jare lank veg.”
Uygun sê die VF Plus het talle klagtes van motoriste ontvang wat onlangs slagoffers van aanvalle op die N2 geword het.
“Op Dinsdag, 11 November omstreeks 20:00, is `n gesin van Johannesburg, insluitend `n baba, geteiken toe `n klip hul voertuig getref het. Die voorval het groot skade aan die motor aangerig en die gesin ernstig getraumatiseer. Die VF Plus het ook telefonies met `n dokter van Somerset-Wes gepraat nadat hy op Donderdag, 13 November, om 19:00 naby die Borchards Quarry-afrit aangeval is. Hy het borsbeserings opgedoen en is in die hospitaal opgeneem,” sê Uygen.
“Ook het `n ma het via sosiale media haar seun se skokkende ervaring gedeel toe sy voertuig vroeër die maand met `n klip gegooi is op Stellenbosch Arterial, net voordat hy op die R300 gedraai het.”
Hierdie is `n noodsituasie. `n Multi-belanghebber-beraad tussen die Stad Kaapstad, Sanral, die polisie en die provinsiale regering moet sonder versuim belê word.
Volgens hom móét drastiese maatreëls dringend ingestel word om verdere aanvalle op hierdie berugte “Hell Run” te voorkom. Hierdie sogenaamde “Hell Run” strek tussen Somerset-Wes en die Kaapstad Internasionale Lughawe, asook die R300-aansluiting.
“In die omgewing van die lughawe alleen is 42 gevalle van bakstene wat na voertuie gegooi is tussen April verlede jaar en Maart vanjaar aangeteken. In die afgelope ses maande is minstens vyf bevestigde klipgooi-aanvalle gedokumenteer.”
Hy sê voorvalle sluit in `n dodelike skietvoorval op 28 Julie vanjaar nadat klipgooiers ’n motoris op die R300 tot stilstand gedwing het, en `n betonblok wat op 1 Augustus vanjaar na `n bewegende voertuig gegooi is, wat `n vroulike passasier ernstig beseer het.
“Hierdie aanvalle volg `n koue patroon: klippe of bakstene word vanaf voetgangerbrûe, padrande of die rand van informele nedersettings gegooi. Dit versplinter ruite en dwing bestuurders om te stop, waarna hulle beroof, gekaap of wreed aangeval word,” voeg hy by.
“Ten spyte van 285 kringtelevisie-kameras en 24/7-snelwegpatrollies, maak gebreekte omheinings en disfunksionele sekuriteitstelsels dit vir oortreders, dikwels jeugdiges uit nabygeleë informele nedersettings, moontlik om toe te slaan en te verdwyn. Intussen neem die menslike tol toe. Motoriste ly gesigbeserings, trauma en voertuigskade, terwyl toeriste wat by die lughawe aankom of vertrek, toenemend geteiken word.”
`n Noodsituasie
Uygun sê Sanral het reeds in 2023 meer as 200 soortgelyke voorvalle aangeteken en die huidige tendens dui daarop dat 2025 selfs erger gaan wees.
“Hierdie is `n noodsituasie. `n Multi-belanghebber-beraad tussen die Stad Kaapstad, Sanral, die polisie en die provinsiale regering moet sonder versuim belê word,” sê hy.
Die VF Plus glo dat daar onmiddellik opgetree kan word deur die volgende stappe te implementeer: Die herstel van alle beskadigde snelwegomheinings en aktivering van stukkende kringtelevisie-kameras; die ontplooing van permanente gewapende patrollies by die ses hoë-risiko voetgangerbrûe; jeugopleidingsprogramme in Philippi, Nyanga en Crossroads om die oorsake aan te spreek en die integrasie van regstreekse voorval-verslagdoening tussen die metropolisie, Sanral en die publiek.
“Voorkoming is nie ’n keuse nie, maar ’n noodsaaklikheid. Elke gebreekte heining en onbewaakte brug is ’n uitnodiging tot die volgende aanval. Die Stad kan nie sy verantwoordelikheid verskuif nie. As daar nie dringend opgetree word nie, sal die bloed van onskuldige motoriste aan sy hande kleef,” sluit hy af.





