Karin van Aardt (64)
Karin van Aardt (64) vroeër ‘n onderwyser van Bloemfontein, het gesterf ná ‘n mesaanval naby Kaapstad. FOTO: Facebook

BLOEMFONTEIN – ‘n Oudonderwyseres van die Laerskool Universitas (Tjokkies) in Bloemfontein, maar nou van Mbombela, is Vrydag 5 Desember naby die Kaapstad-lughawe op die N2 doodgesteek.

Die moord op Karin van Aardt (64) is ‘n bewys van die tragiese werklikheid van geweldsmisdaad in Suid-Afrika waar misdadigers weens ‘n gebreekte strafregstelsel geen ontsag meer vir reg of lewe het nie.

Van Aardt en haar man was in ‘n huurmotor op pad na hul kleinkind se verjaardag in Vredenburg, toe ‘n vermeende aanvaller die motor se ruit uitgeslaan het en haar glo met ‘n mes gesteek het om haar handsak te steel.

Dr. Corné Mulder, VF Plus-leier sê in ‘n nuusverklaring, Van Aardt se dood dien as bewys dat die owerhede klaarblyklik wegkyk eerder as om kragdadig op te tree en stappe te neem om misdadigers met alle middele tot hul beskikking uit te roei, selfs al pleit ‘n misdaadvoos gemeenskap om beskerming.

“Drie weke gelede het die VF Plus ‘n sterk mediaverklaring uitgereik juis oor die geweld en wetteloosheid op paaie om Kaapstad se internasionale lughawe en gevra vir optrede om gewelddadige aanvalle en klipgooiery op N2 en R300 te stop”.

Mulder sê die party het gevra dat alle rolspelers – van die stad, die provinsie, Sanral en die polisie – hande moet vat en saamwerk om oplossings te vind.

“Die VF Plus het selfs praktiese en uitvoerbare voorstelle aan die hand gedoen oor voorkomende optrede, soos die herstel van beskadigde snelwegomheinings, die aktivering van stukkende CCTV-kameras en die ontplooiing van permanente gewapende patrollies by hoë risiko-gebiede – ook waar Van Aardt vermoor is.”

Mulder sê probleem is veel groter en wyer. “Die slagting en misdaadgolf by die lughawe is tekenend van wat in die res van die land gebeur. Optrede en voorkoming is daarom nie meer ’n keuse nie, maar ’n noodsaaklikheid.”

Die VF Plus het gewaarsku dat elke gebreekte heining en elke onbewaakte robot en brug in die lughawe-gevaarsone ’n uitnodiging is tot die volgende aanval.

Die VF Plus het gewaarsku dat daar verdere aanvalle en bloedvergieting in dié omgewing sál wees en dat die bloed van dié onskuldige mense op die hande sal wees van diegene wat versuim het om op te tree.

“Daar is gemiddeld sowat 70 moorde daagliks in Suid-Afrika – ‘n blote fraksie van die aanrandings, geweld, pogings tot moord, verkragtings en ander geweldsmisdaad.

“Misdaad is nie net ‘n krisis nie, dit is ‘n noodsituasie. Die werklikheid is egter dat Suid-Afrikaners só afgestomp geraak het dat hierdie slagting bykans as normaal beskou word.

“Dit is nie normaal nie,”sê Mulder. “Dit is verkeerd en die tyd het aangebreek dat daar met erns en felheid opgetree word. Geen straf is te erg om vredeliewende en wetsgehoorsame burgers te beskerm nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article