’n Inwoner van Welgelegen is verheug oor die feit dat ’n sloot in die middel van die straat, wat byna sewe maande lank voor sy huis was, eindelik herstel is.
Adrian de Vries, ’n inwoner van Robynsingel wat regoor die sloot woon, moes lank ompad ry om by sy oprit in te ry, maar sedert verlede week kan hy direk inry.
Die sloot het ook vroeër skade aan een van sy voertuie se bande veroorsaak.
Verheug oor herstelwerk
“Ek kan nie glo dat ’n ou sewe maande gewag het vir iets wat so gou herstel is nie.
“Hulle was reeds besig toe ons hier aankom, maar ek dink hulle het drie ure geneem om dit te herstel.”
Die sloot in die pad is agtergelaat nadat herstelwerk verlede jaar aan ’n waterpyp gedoen is.
“Ek kan nie glo dit het so lank geneem nie. Dis lekker om direk by die oprit in te ry, en nie eers om die blok te ry nie,” het hy verlede week gesê.
Hy sê hulle het die beplande betoging oor die kwessie na ’n braai verander.
Raadslid in kennis gestel
Cheryl Visser, wyksraadslid, het bevestig dat die herstel van die pad verlede week gedoen is nadat sy terugvoering van inwoners ontvang het.
“Wanneer werk aan ondergrondse infrastruktuur op paaie, sypaadjies en opritte gedoen word, sal die departement wat die werk behartig ’n diensversoek rig dat die herstelwerk gedoen word.
“Dit help egter as inwoners dit self ook doen en sodoende verseker dat dié versoek gerig word,” sê Visser.
Om die herstel van ’n sloot in die pad te versoek, skakel 0860 103 089; 0800 656 463 of stuur e-pos na transport.info@capetown.gov.za.
Inwoners kan ook die Stad Kaapstad se webtuiste besoek om so ’n versoek te rig, sê Visser.
“Hierdie spesifieke herstelwerk aan die pad is onder my aandag gebring en ek het dit dadelik met die departement van water en sanitasie opgeneem, sowel as die departement van paaie en stormwater.
“Dit is uiters belangrik om kennis te neem dat raadslede nie by magte is om instruksies aan amptenare te gee om hul werk te doen nie.”
Visser sê met enige werk wat met waterinfrastruktuur verband hou, moet daar deur die departement van water en sanitasie daaraan aandag gegee word.
Die herstel van die sloot word nie deur dieselfde span gedoen nie, sê sy.
Die departement van water en sanitasie maak gebruik van kontrakteurs, of die departement van paaie en stormwater sal soms hiermee hulp verleen, voeg sy by.
“Ongelukkig is dit so dat dit tyd kan neem voor die herstelwerk plaasvind.
“Wanneer werk gedoen word, moet die pad gangbaar en veilig gemaak word,” sê Visser.





