Die herstelwerk aan slaggate sal binnekort in onder meer Sonnendal, Welgelegen, Plattekloof Glen, Kaapzicht en die res van die woongebiede in Wyk 1 – die metro se grootste wyk – voortgesit word.

Só sê Cheryl Visser, wyksraadslid, wat byvoeg dat dié werk tot dusver goed verloop het.

“Einde verlede jaar was daar ’n gestruktureerde program vir die herstel van slaggate, wat suksesvol in Panorama en Monte Vista voltooi is,” sê Visser.

Altesame 51 paaie in Panorama en 55 paaie in Monte Vista is voltooi.

“Die herstelwerk is deur ’n kontrakteur behartig en die terugvoering van die inwoners was positief,” sê sy.

Verskeie paaie is ook in Panorama in Desember verlede jaar herseël.

“Herseëlwerk is ook in Uys Krige-rylaan in Plattekloof 1, sowel as by Giel Basson-rylaan en Rothschild-boulevard se kruising gedoen. Hopelik sal meer werk gedoen word en sal die departement van paaie en stormwater ’n aankondiging hieroor maak,” sê Visser.

Inwoners kan ’n eis by die Stad Kaapstad indien as hul eiendom enige skade opdoen weens slaggate. Skakel 0860 103 089 om die nodige dokumente en kontakbesonderhede te verkry. Inwoners kan ook direk met Visser kontak maak vir meer besonderhede hieroor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article