Planne is op dreef om Diaz-park in Diaz-rylaan in Monte Vista op te knap.
Cheryl Visser, wyksraadslid, het op ’n onlangse subraadvergadering aangedui dat ’n groot deel van haar wyksbegroting vir dié opknapprojek gaan.
Die 2023-’24 wyksbegroting gaan onder meer gebruik word vir die bou van paadjies in die park, het sy aan TygerBurger gesê.
“Monte Vista en Plattekloof Glen se belasting- en inwonersvereniging wil graag hê dat die park opgeknap word met harde oppervlaktes vir verskeie sportsoorte.
“Daar is reeds vanjaar ’n tafeltennisblad van sement daar opgerig.
“ ’n Nuwe klimraam vir kinders gaan ook voor einde Junie geïnstalleer word,” sê Visser.
Sy voeg by: “Die voorsitter van die vereniging moet beoogde planne indien van hoe die paadjies en harde oppervlaktes gebou moet word met die 2023-’24 wyksbegroting en inwoners kan dalk hul idees daaroor ook aan hom deurgee.”
’n Grootskaalse projek word ook vir die Plattekloof-, Welgelegen-, Panorama- en Kleinbosch-gebiede van Wyk 1 beplan.
“Van die bestaande paadjies in Panorama en Welgelegen gaan eersdaags opgeknap word.”
Albei projekte behoort binnekort te begin en teen die einde van die boekjaar voltooi te wees, sê sy.
“Ek vertrou dat hierdie wyksbegroting-projekte goed deur inwoners ontvang sal word en hulle sal aanmoedig om die parke te gebruik,” sê Visser.





