Die Radio Tygerberg 104FM Tyger Run/Walk, die grootste padwedloop in die noordelike voorstede, is terug op 21 Maart by die Tygervallei-winkelsentrum.
“Dis dáái geleentheid waar die hele gesin tekkies aantrek en saam kan kom draf of stap,” sê Rikus van Rooy, stasie- en programbestuurder van Radio Tygerberg.
Hy voeg by: “Ons is opgewonde om weer hierdie gewilde geleentheid te kan aanbied en wil soveel deelnemers moontlik vanjaar op die pad sien.”
Drawwers kan vanjaar aan die splinternuwe 15 km-wedloop deelneem, terwyl gesinne weer gereed kan maak vir die 6 km-pretdraf of -stap.
Die wedlope begin om 06:45 en 07:15 onderskeidelik.
Discovery Vitality is ook weer eens betrokke, wat beteken dat deelnemers 600 punte verwerf vir die 15 km-wedloop en 300 vir die 6 km-wedloop.
Die punte kan ook gebruik word om vir ander wedlope te kwalifiseer.
Inskrywings vir die Tyger Run/Walk is reeds oop en kan slegs aanlyn gedoen word by www.topevents.co.za.
Die koste vir die 15 km is R190 vir ongelisensieerde atlete (sluit jou tydelike lisensie in), R130 vir gelisensieerde atlete en R100 vir die 6 km-pretdraf of stap. Die koste sluit ook die tydsberekeningskyfie in.
“Waarvoor wag jy? Trek jou tekkies aan en skryf dadelik in vir hierdie spesiale gesins-geleentheid,” sê Van Rooy.
- Stuur ’n e-pos na janhendrik@104FM.co.za vir meer inligting. TygerBurger is vanjaar ’n trotse media-vennoot van die TygerRun/Walk.





