Shofar Durbanville bied eersdaags Die Huis van Maria aan – ‘n oorspronklike musiekblyspel, wat die gehoor uitnooi om Jesus se lewe deur die oë van sy familie te beleef.
Ontmoet Maria as ‘n jong vrou, wat ‘n besondere belofte ontvang en later as ‘n ma wat haar kinders met liefde en geloof deur die lewe lei. Sy dra die vreugde van haar seun se roeping, maar ook die onsekerheid en pyn wat daarmee saamgaan.
Haar verhaal herinner daaraan dat geloof nie beteken ons verstaan altyd wat gebeur nie. Soms beteken dit om aan te hou vertrou – selfs wanneer die pad swaar is.
LEES OOK: Belinda Davids to make musical theatre debut as lead in ‘The Bodyguard’

Gesin
Die verhaal fokus ook op Jesus se broers en susters, veral Jakobus en Juda. Hulle groei saam met Jesus in dieselfde huis, maar verstaan nie altyd wie Hy is of waarom Sy lewe so anders verloop nie.
Namate hulle ouer word, raak hul verhouding met Hom deel van ‘n groter verhaal van vrae, twyfel, liefde en verandering. Deur alles heen bly hul familieband belangrik, terwyl Maria die gebeure in haar hart bewaar.
Die produksie is deur Andoré van der Merwe geskryf, wat ook die regisseur is. Met oorspronklike musiek deur Jeani Heyns gee die produksie hierdie familieverhaal met sang, toneelspel en dans lewe.
Mila Niemand vertolk Maria, Jacques Lubbe is Jakobus en Mu-Een Kahn vertolk die rol van Jesus. Kinders is ook deel van die musiekblyspel en help om die familie se jonger jare op die verhoog uit te beeld.
Kom beleef ‘n verhaal oor familie, geloof, verlies en hoop. Die verhaal herinner daaraan dat God se groter plan dikwels eers mettertyd duidelik word en dat selfs mense wat naby aan Jesus geleef het, ‘n reis van ontdekking en geloof moes onderneem.
Die vertonings is in die Hoërskool Curro Durbanville se teater van Donderdag 5 tot Saterdag 7 November saans om 19:00, asook Saterdag om 14:00.
Kaartjies is beskikbaar by Quicket.
LEES OOK: WATCH: Ndlovu Choir collaboration entered for two 2027 Grammy Awards






You must be logged in to post a comment.