Senior groep van die NG kerk Goodwood skenk aan SA Water Warriors

Die senior groep van die NG kerk Goodwood, bekend as die Sewejaartjies, saam met Deon Smit, die stigter van die SA Water Warriors. FOTO: Jo Sekepane


Die senior groep van die NG kerk Goodwood, bekend as die Sewejaartjies, het op Donderdag 24 November ’n donasie aan die SA Water Warriors gemaak.

Alma Kroukamp, sameroeper van die senior groep by die kerk in Goodwood, sê die Sewejaartjies het ongeveer ses jaar gelede met sewe lede begin.

Hierdie seniors en pensioenarisse kom elke tweede week op ’n Donderdag bymekaar vir speletjies, ’n ete of pretaktiwiteite. Die meeste bly in ouetehuise en is lede van die kerk.

Die naam Sewejaartjies het ontstaan as gevolg van die sewe lede in die begin.

“Dit verwys ook na die blommetjie wat in die berge groei – ’n droë blommetjie,” voeg Kroukamp by.

Die groep, tans met 27 lede, is eintlik vir lede van die kerk, maar is oop vir enigeen wat alleen voel, wat voel hy of sy kan inskakel by die kerk, ongeag ras en geslag.

’n Hartsding

Hierdie groep het voorheen ook vir SA Water Warriors ’n skenking gegee.

“Ek voel dis ’n hartsding,” vertel Kroukamp.

“Gewoonlik deel ons geskenke uit op ons laaste dag saam. Toe sê ons, kom ons vat daardie geldjies en koop iets vir die mense wat dit baie meer nodig het as ons.”

Weer gevul

Nellie Swart (80) sê dit is lekker om aan hierdie groepie te behoort.

“Jy sien uit daarna, veral ons wat so alleen is.”

“As jy teruggaan na die ouetehuis, dan voel dit of jy weer gevul is.”

Die Sewejaartjies-groep is “sielskos”, verduidelik Swart.

Hierdie groep se lede is enige ouderdom van laat sestig tot in hul laat tagtig.

Bettie Brown, een van die stigterslede, sê as ’n mens afgetree is, soek jy iets om te doen.

“Alma, die sameroeper, laat ons altyd lekker goedjies doen. Sy is ’n baie goeie leidster. Ons lag lekker saam met mekaar, en ons huil saam.”

Wat die skenking betref, sê Brown, is dit net trane.

“Oor ons keuses het; ons eet nie broodjies nie, ons eet daai tertjies. En daardie mense in Garies het nie daardie keuse nie. Hulle moet vat wat hulle kry. Dit is ’n groot dankbaarheid.

“ ’n Mens kan nie genoeg doen nie. Ons kla met die witbrood onder ons arm,” sê Swart.

“Ek dink wat Deon doen, is net wonderlik,” sê sy.

“Garies is ’n klein dorp wat afhanklik van die boere is. As die boere nie voer het nie, wat word van al die werkers? Dit is ’n kringloop en jy kom nie maklik daar uit nie,” voeg lede van die Sewejaartjies by.

Ons kan gee

“Ons wat in die stad is om uit te reik, is baie hartseer, maar dit is ook verblywend dat ons iets kan doen.”

Bettie Brown sê “ons is afgetree, ons pensioen is so klein. Waar kom die boere se inkomste vandaan?

“Wat lekker is, is dat ons kan gee. Wat ek geniet van elke Donderdag is dat ons ’n uur het waarin ons net kan vergeet van die lewe daar buite; dis ’n uitlaatklep. Ons ontvang meer en ontspan. Ons kan nie wag vir die volgende week nie.

“As ons die Sewejaartjies kan beskryf, sal ons sê dit is ’n omgeegroep,” sê Elsa Esterhuyse. “Ons gee om vir mekaar.”

‘Hulle dink dalk dit is min’

Deon Smit, stigter van SA Water Warriors, sê hy voel baie goed oor die donasie. “Hulle dink miskien dit is min.”

Hy vertel hoe daar eenkeer ’n boer na hom toe gekom het. ’n Jong boer met ’n familie en hy kom na Smit toe met ’n standaard sakkie vol kruideniersware en hy sê vir hom: “Oom, jy besef dit nie, maar hierdie is ’n maand se kos vir my familie”.

Volgens Smit het hulle altesaam 16 voertuie wat voorraad op Garies gaan aflaai. Daarvan is twee vragmotors – een vragmotor met 700 lusernbale en een met ongeveer 25 000 liter gebottelde water.

“Verder neem ons kospakkies vir 160 gesinne (boere en plaaswerkers),” sê Smit.

“Daar is ook vir elke boervrou ’n bederfboksie, vir elke man ’n klein geskenkie en dan Kersgeskenke vir al die families se kinders.”

Die SA Water Warriors vertrek Saterdag 3 Desember vanaf die Engen-motorhawe oorkant Cape Gate. Die twee vragmotors sal die groep Saterdag langs die pad ontmoet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article