School Rugby

Vir Danica Pypers (19) het alles in 2016 begin toe sy maar net nege jaar oud was. Die meisie wat vandag as “Smalls” bekend staan, het eers netbal en tafeltennis probeer, maar dit was nie vir haar nie. Sy het toe eendag saam met haar broer gaan kyk hoe die vroue rugby oefen. Hoewel sy nog jonk was, het dit onmiddellik haar aandag getrek. Op die rugbyveld het sy die afrigter Jonathan Adams ontmoet en van die kantlyn af het haar passie begin groei.

Danica is gekies vir die o.20 Springbok vrou-rugbyspan wie eersdaags teen VSA te staan kom.

Sy vertel eers van haar groot oomblik toe sy verlede jaar hoor sy is in die Westelike Provinsie se o.18-span opgeneem. “Ek was geskok en so bly. “My harde werk was uiteindelik besig om vrugte af te werp. Die kompetisie was taai, maar opgee was nooit ‘n opsie nie.”

In 2024 het sy nie die WP o.18-span gehaal nie, maar sy het haarself belowe, 2025 is haar jaar. Danica sê sy het biddend gebly en in God geglo.

Danica was lid van die WP o.20-span wat vroeër die jaar in Gauteng gespeel het.
Danica was lid van die WP o.20-span wat vroeër die jaar in Gauteng gespeel het.

‘n Span wat veg tot die einde

Die hoogtepunt van die SA o.18-span se toernooi was om haar beste te gee. Hulle het wel verloor, maar as span het hulle volgens haar “gewen” deur die volle 70 minute te veg. “Die uitdagings was groot — baie kompetisie en ‘n reuse-verskil tussen provinsiale en nasionale vlak.”

Wanneer sy praat oor die uitdagings op haar pad, vertel sy van die seuns by haar skool wat gesê het dit is maklik vir vroue om in provinsiale spanne te speel. “Ek het hierdie negatiewe kommentaar as motivering gebruik.”

Vanjaar was sy deel van die WP o.20-toernooi in Gauteng waar sy vir die vierde keer die oorwinning saam met die span kon ervaaar. Hierdie was vir haar ‘n hoogtepunt en ‘n eer om te kon deelneem.

Leierskap en balans

Danica speel skrumskakel. “Ek het eers losskakel gespeel voor ek skrumskakel begin speel het.” Danica bedank die afrigters Jonathan Adams en Johan Pedro wat haar die basiese dinge oor die posisie geleer het. “Dit was moeilik aan die begin, maar soos ek aangegaan het, het ek baie dinge wat belangrik is begin leer oor my posisie.

“Ek het begin gewoond raak daaraan om eienaarskap te aanvaar en vinnige besluite op die veld te neem. Dit het my ook geleer om op die veld te praat.”

As gr. 12-leerder aan die Hoërskool Bellville-Suid kom haar skoolwerk eerste — sy doen haar huiswerk voor sy op rugby fokus, maar probeer die twee balanseer.

Danica is trots om lid te wees van die Junior Springbok o.20-groep.
Danica is trots om lid te wees van die Junior Springbok o.20-groep.

Drome en inspirasie

Haar droom? Natuurlik is haar droom om eendag ‘n Springbok-trui oor haar kop te trek. Dié doelwit het sy reeds in 2019 vir haarself gestel toe sy begin rugby speel het. Sy wil ook graag ‘n loopbaan in die onderwys volg.

Sy noem dan ook dat sy dankbaar is teenoor die mense in haar gemeenskap, veral vir hul ondersteuning. “Die manier hoe hulle my altyd benader en my gelukwens. Wat ek ook geleer het, is dat jy nooit moet vergeet waarvandaan jy kom nie. Daarom is ek so dankbaar vir hul ondersteuning, veral die jong seuns wat so opkyk na my.

LEES OOK: Kasselsvlei-leerder verteenwoordig Wes-Kaap op netbaltoer

Vir jongmense in haar gemeenskap het sy ‘n boodskap: “Wees seker van jou besluite, maak goeie keuses, moenie agter verkeerde vriende aangaan nie. Moenie opgee nie, werk hard — iemand hou jou dalk dop sonder dat jy dit weet.”

Haar inspirasievers is Jesaja 60:22 —”Wanneer die tyd daarvoor kom, doen Ek dit.”Sy voeg by dat jy altyd geduldig moet wees.

Die jongeling van Bellville-Suid staan haar posisie as skrumskakel vol.
Die jongeling van Bellville-Suid staan haar posisie as skrumskakel vol.

‘n Gemeenskap wat trots is

Harold Absalie en sy vrou, Shireen, is verskriklik trots op Danica. Absalie noem dat hulle al die jare vir hulle ontferm oor Danica. “Ons is baie trots op haar sukses so ver en weet sy gaan dit nog ver bring in die lewe,” sê Harold. Hy beskryf haar as ‘n baie nederige meisie.

Danica bly by haar bejaarde oupa — haar ouma is reeds oorlede. Die Absalies is nie haar wettige pleegouers nie, maar speel wel dié rol. Vir hulle is dit net ‘n plesier om dit te doen, hoewel hulle ook al afgetree het, sê Absalie.

“Sy gaan beslis bo haar omstandighede uitstyg,” aldus Absalie.

LEES OOK: Karate-ster van Bellville-Suid gekies vir wêreldsaamtrek

Die Junior Springbok-vroue sal vandeesmaand terugkeer tot aksie wanneer hulle hul eerste wedstryde sedert 2024 speel, teen ‘n VSA o.20-span, met ‘n groep spelers wat na Stellenbosch genooi is vir ‘n twee weke lange belyningskamp.

Die twee wedstryde in hierdie historiese reeks sal op 17 en 24 Julie in Stellenbosch gespeel word. Die SA o.20’s het laas in 2024 gespeel toe hulle teen Tunisië, Uganda en die San Clemente Rhinos in ‘n vierspan-toernooi, ook in Stellenbosch, te staan ​​gekom het.

Gift this article