Kalkfontein en die Laerskool Irista se sangsensasie, Sayde Fillis (12), gaan eersdaags op dieselfde verhoog optree as kunstenaars soos Robin Pieters, Paxton, YoungstaCPT en Craig Lucas.

Sayde, nou in gr. 7, het reeds in graad R op die kleintjies se diploma-plegtigheid die eerste keer solo voor die hele skool gesing. Sedertdien is hy Irista se gereelde sanger.

Sy bekendheid het einde November verlede jaar veel wyer uitgekring nadat video’s waarin hy Adelé se lied “Easy on me” by die skool gesing het, soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het. Die een video is intussen reeds meer as 230 000 keer op Facebook gekyk.

“Almal het gekom vir interviews. Ek was baie gelukkig,” sê Sayde oor die reaksie wat gevolg het.

Sayde kom selfs ’n bietjie teruggetrokke voor, maar een ding is seker – hy is glad nie skaam om solo te sing nie. Sing is “net lekker”, sê hy.

Andrew Fillis, Sayde se pa, sê hy het self van jongs af gesing, maar “het nie die guts gehad” wat sy seun het nie. “Hy weet nie van stage fright nie. Daai exist nie by hom nie – so ek dink dis baie natural born.”

Andrew het grootgeword met broers wat koormeesters was. Hy is self ’n koormeester by die Sondagskool van die Ou Apostoliese kerk in Sarepta. Dit was juis toe Sayde as ’n kleuter ’n Sondagskoolkind geword het dat mense begin vra het hy moet solo sing, sê Andrew. “Daarvandaan het hy net gegroei in sy solo act.”

Sayde hou van popmusiek soos van Justin Bieber en Bruno Mars. “(Ek) hou van sing, maar nie songs met vloekwoorde nie,” sê hy. Soos baie tienerseuns hou hy van sokker.

Hy sê kinders by die skool kom sê vir hom “ons sien jy gaan viral op TikTok” of dat hy “Facebook famous” is.

’n Video waarin Sayde “Easy on me” langs die swembad by die Kuilsrivier-woonwapark (op Saterdag 5 Februarie) sing, het weer groot aandag getrek.

“ ’n Lifeguard het die video geneem en dit vir iemand gestuur. Dié persoon het dit toe op TikTok gesit en dit het viral gegaan,” sê Andrew.

Robin Pieters, ’n plaaslike sanger wat opgang gemaak het sedert hy in 2016 ’n finalis in The Voice SA was, het uitgereik om met Sayde kontak te maak nadat hy die video gesien het. (Die video het intussen op Robin se Facebook-blad al meer as 80 000 likes gekry.)

Robin het die Fillis-gesin verlede week besoek. Daarna het hy bekend gemaak Sayde gaan by die jaarlikse musiekfees, waarvan hy die organiseerder is (It’s a love thing, Volume 6), optree. Dit vind op Saterdag 26 Februarie by Hillcrest plaas.

Andrew glo die vertoning kan moontlik deure open. “Sayde weet ook hy moet sy kant bring. Ek wil hom goed prepare vir dit.”

Al het Robin met sy besoek vir Sayde gevra om vir hom “enigiets behalwe die Adelé-song te sing,” vermoed Andrew dit sal op die program wees. “Dis die song wat aandag trek.”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article