Kospakkies is onder boere en hul werkers versprei.


South African Water Warriors (SAWW) het die jaar afgesluit met ’n uitreikprojek op 25 November na Garies in die Noord-Kaap, waar 150 kospakkies afgelewer is.

Hierdie kospakkies is versprei onder boere, werkers en vroue van Garies, Kamieskroon, Springbok en Concordia.

Benewens die kospakkies vir die boere en hul werkers, is daar ook kruideniersware gestuur na twee ouetehuise en twee skoolkoshuise. Boervrou-bederfboksies is ook uitgedeel.

“Met die aankoms van die 13 gelaaide voertuie uit Kaapstad kon jy die blydskap en verligting in die mense se gesigte sien.

“Verder is daar weer eens hoop gegee en gewys dat ons boere nie vergete is nie,” meen Deon Smit, stigter van die SA Water Warriors.

Hy sê hoewel dele van die Noord-Kaap reën gekry het, is die droogte ver van gebreek en gaan daar nog lank hulp benodig word.

Sonder winsbejag

SAWW is ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag (NPO), wat gestig is met die Dag Zero-scenario en het water van oral in die land na Kaapstad gebring.

Die water is dan by skole, hospitale, aftreeoorde en ander instansies versprei.

“Met verloop van tyd het ons navrae gekry vir hulp met voer vir boere in die droogtegeteisterde gebiede en nie lank daarna nie vir kos vir die boere self en hul werkers.

“South African Water Warriors het gehoor gegee en begin help met water, voer en kruideniersware in die droogtegeteisterde gebiede. Ons hou elke tweede maand ’n uitreik en alle voorraad word vervoer deur vrywilligers op hul eie onkoste.”

Nou ses jaar later help hulle steeds waar die nood onder die boere en hul werkers druk, verduidelik Smit.

Hul vrywilligers strek van die suidelike voorstede tot in Paarl, Wellington en Strand.

Ses uitreike vanjaar

Die afgelope jaar is ses uitreike gehou na Tankwa, Laingsburg, Merweville, Garies, Williston en Leeu-Gamka, waartydens altesaam 928 families gehelp is. Dis buiten die ouetehuise en koshuise wat ook gehelp is.

Smit meen dit sou nie moontlik gewees het sonder die hulp van die publiek, donateurs en borge nie.

“Baie dankie aan ieder en elk. ’n Spesiale dankie aan ons vrywilligers wat met elke uitreik op hul eie onkoste help om die skenkings te vervoer na waar dit nodig is.”

Die groep hoop om volgende jaar nog meer gesinne te help.

Foto’s en besonderhede van die uitreike kan op hul Facebookblad gesien word.

Smit sê die groep se volgende uitreik is op 24 Februarie na Loeriesfontein.

Kontak Deon (stigter) by 082 738 2702 of deon@sawaterwarriors.org.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article