Vier rowers is vasgetrek in ’n aand van groot drama nadat hulle twee vroue by ’n huis in die spogbuurt Oude Westhof gewurg en derduisende rande geroof het.
Die voorval het gisteraand (27 Januarie) om 21:15 plaasgevind, sê kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisiekantoor.
“Die vrou was in haar kamer en haar helper was in die kombuis besig,” sê Rhode.
“Vier mans het deur die voordeur ingeloop, met die trappe opgegaan en die vrou met ’n vuurwapen gedreig,” volgens hom.
Die rowers wou weet waar die geld is.
“Voordat sy nog kon antwoord, het hulle haar na die hoofslaapkamer gevat. Hulle het haar gedreig dat hulle haar kind sal doodmaak as sy nie vir hulle sê waar die geld is nie.”
Hulle het toe die klaagster en die helper gewurg.
“Daarna het hulle ’n kluis gevat wat in die stoorkamer was. Binne-in was R35 800 kontant,” sê Rhode.
Die rowers het gevlug deur oor ’n heining te spring.
Die polisie, buurtwagte en sekerheidsmaatskappye was egter kort daarna op hul spoor en het die rowers tot in Brackenfell gevolg, waar hulle in hegtenis geneem is.
In ’n Facebook-plasing wat wyd versprei is en intussen verwyder is, word gemeld dat ’n kind in die rooftog ontvoer is, maar naby die toneel weer afgelaai is.
Dit blyk nie waar te wees nie.
‘n Bron na aan die ondersoek, wat anoniem wil bly, sê die kind is egter nooit in die voertuig gelaai nie.





